Kenne en Joy de Kock, wat tien jaar gelede die Kelrn MTB Classic-byeenkoms begin het.

Foto: Charné Kemp

Die Kelrn MTB Classic-byeenkoms by Barkly-Wes het vanjaar R1,5 miljoen vir kinderwelsynsorganisasies ingesamel.

Dié byeenkoms is ’n tiende jaar aangebied, op Saterdag 28 Oktober. Geld word deur borgskappe, skenkings en inskryfgeld geïn. Kenne de Kock, eienaar van Kelrn Vervoer, sê hulle skenk geld aan niewinsgewende organisasies “wie se hoofdoel kindersorg is en wat daarop gemik is om van ’n jong ouderdom af gesonde morele waardes en etiek by kinders te vestig.

“As ons vir ons kinders kan sorg en hulle toerus om gebalanseerde, gesonde individue met ’n goeie morele kompas te wees, sal ons baie minder behandeling nodig hê. Ons skenk geld vir sulke organisasies, en van die geld gaan aan die toerusting wat vereis word om kinders te versorg en behandel.”

Kenne en Joy de Kock, wat tien jaar gelede die Kelrn MTB Classic-byeenkoms begin het.

Die Kelrn MTB Classic beleef jaarliks ’n gemiddelde groei van 32,4%. Vanjaar kon fietsryers hulle vir deelname oor 13 km, 35 km of 67 km inskryf, en ’n eerste keer het fietsryers op e-fietse deelgeneem. Drawwers kon die 5 km óf 13 km aanpak, terwyl ’n pretstap ook plaasgevind het. Deelnemers het uit onder meer Kuruman, Bloemfontein, Kathu, Postmasburg, Olifantshoek en Gauteng opgedaag.

De Kock sê hy kom uit ’n familie wat sterk daarin glo om terug te ploeg in die gemeenskap. Dié byeenkoms is die perfekte geleentheid om plaaslike kindersorg-projekte te ondersteun.

Sy vrou, Joy, bedryf jare reeds die Koeistal Kersmark nadat hulle besef het dit sou goed werk om die mark en die byeenkoms in dieselfde tydperk aan te bied.

“In die eerste jaar wou ek R100 000 insamel, en die tweede jaar R200 000. Vanjaar was die mikpunt R1 miljoen Ek is meer as dankbaar dat ons saam R1,5 miljoen ingesamel het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article