’n Weduwee van Kimberley wat byna twee jaar op “bevredigende antwoorde” van die weermag wag oor die “vreemde omstandighede” van haar man se skielike dood by die Lohatla-weermagbasis, het nou ’n klagte by die polisie ingedien.

’n Radelose Glynis Theko beweer die weermag minag haar.

“My man, ’n weermagreservis, was Thabo Gofdrey Theko, wat in 1971 gebore is. Hy het sedert 1994 by die weermag gewerk. Op 26 September 2022 is hy skielik by die basis dood, sonder dat hy ooit siek was. Ek het omstreeks 15:45 telefonies met hom gepraat, en ons sou later weer gesels. Later kon ek hom nie weer in die hande kry nie. Sy foon het net gelui.

“Die volgende dag het ’n kollega Thabo se foon geantwoord en gesê hulle soek na my man. Op 3 Oktober het sy bevelvoerder vir my gesê dat hy sonder verlof die basis verlaat het. Dit was nie in sy aard nie. Op 4 Oktober het die bevelvoerder gesê ’n lyk is by die skietbaan gevind. Sy het die beursie en klere beskryf, waarna ek besef het dit is hy.

“Sover ek verstaan is die toneel nie as ’n misdaadtoneel afgesper nie, en is ’n begrafnisondernemer ontbied om die lyk op te laai. Iemand het foto’s op die toneel en in die lykshuis geneem en na ons gestuur. Die liggaam het merke op die gesig en lyf gehad wat met aanranding ooreenstem. Die oë was opgeswel. Die staatspatoloog het bevind hy is aan natuurlike oorsake dood. Ons betwis dit vanweë die beserings op die lyk en die vreemde omstandighede van sy dood.

“Ek hoor daar was ’n raad van ondersoek na sy dood, maar die weermag wil my nie besonderhede gee of wat die uitkoms was nie. Ek en my familie het vele kere sonder sukses probeer om antwoorde te kry.”

Die weermag sê in ’n verklaring dat die voorval by die militêre polisie aangemeld is omdat Theko binne die militêre gebied vermis geraak en dood gevind is.

“Die saak is op 30 September 2022 deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorgeneem. Ná die voltooiing van die ondersoek deur die polisie en die Kathu forensiese patologie-dienste, is vasgestel dat Theko aan natuurlike oorsake dood is. Niemand kon daarom verbind word met sy dood of die beweerde beserings wat aan dele van sy liggaam aangemeld is nie.

“Nadat hy vermis geraak het, is die familie ingelig oor hoe daar na hom gesoek is totdat sy liggaam gevind is. Die weermag het die familie respekvol hanteer en ingelig oor die omstandighede.

“Die weermag het die begunstigdes van die betrokke polisse bygestaan om die voordele te trek,” aldus die weermagverklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article