Terwyl Kimberliete mor oor die beplande onderbreking in watertoevoer wat van Donderdagaand (04/05) af drie dae lank in die stad gaan plaasvind, leef die ongeveer 25 000 inwoners van Warrenton al meer as 60 dae lank met droë krane.
“Dit is omdat ’n kontrakteur van die waterkarre saam met die burgemeester eet dat hulle nie haastig is vir water in die pype nie,” is die mening van ’n inwoner Saterdag (29/04) in dié dorp wat deur die Magareng-munisipaliteit bedien word.
’n Ander inwoner sê “die waterkarre is maar skaars” en dat dit tot twee weke neem voordat jy een in jou straat sien. Die inwoner beweer dat die watertenkers eerste water by mense aflaai wat hulle ken, of by mense wat hulle “ietsie in die hand gee”.
Nog ’n inwoner vertel van ’n private individu wat water by ’n mens se huis kom aflewer.
“Maar jy betaal vir die hele vrag water – of jou waterhouers al die water kan vat of nie.”
Die inwoners van Warrenton-dorp, Warrenvale en Ikhutseng is sedert einde Februarie sonder water nadat ’n deel van die hoofwatertoevoerpyp in die Vaalrivier – wat langs die dorp verbyvloei – in die vloed gebreek en weggespoel het.
Volgens ’n skrywe wat in Maart deur die burgemeester uitgereik is, sou die watertoevoer teen middel-April herstel wees. Dit het nie gebeur nie, en inwoners wonder of daar werklik nie weke gelede reeds ’n meer dringende en tydelike oplossing gevind kon word nie.
In nog ’n skrywe van die munisipaliteit wat op 29 April deur Tumelo Thage, waarnemende munisipale bestuurder, uitgereik is, word geskryf dat die munisipaliteit voortdurend verskillende opsies ondersoek wat tot die “dringende en spoedige herstel” van watertoevoer in Warrenton sal lei.
Volgens die skrywe is ingenieurs, wat konstruksieverwante duikers aanwend, aangestel om inspeksie van die beskadigde pypleiding te doen. Tydens die duikproses het die duikers moontlikhede vir tydelike en permanente herstelwerk aan die hoofwatertoevoerpyp ondersoek.
Volgens die tegniese verslag van die ingenieurs sal dit 14 dae neem totdat die tydelike oplossing in gebruik geneem kan word. In die skrywe word gemeld dat die kontrakteurs op 26 April opdrag gekry het om met die tydelike oplossing te begin.
“Neem kennis dat dit ’n tydelike ingryping is om watertoevoer onmiddellik te herstel, terwyl die permanente en meer volhoubare oplossing in die proses is,” lei die skrywe voorts.
Hierop het ’n inwoner op die munisipaliteit se Facebook-blad met “promise and more lies from Magareng Local Municipal” reageer.
Volgens ’n betroubare bron gaan die gebreekte hoofwatertoevoerpyp van glasvesel, wat net-net onder die wateroppervlak van die rivier sigbaar is, tydelik herstel word.
“Pype om dit mee uit te voer gaan dalk binne sewe dae afgelewer word, en dan behoort dit nog drie tot vyf dae tot inwerkingstelling te neem.”
Die permanente oplossing, wat glo tot vier maande voor ingebruikneming kan duur, is die permanente hegting van die hoofwatertoevoerpyp aan die N18-Magrieta Prinsloo-laagwaterbrug.
Omdat dié laagwaterbrug deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se paaie is, moes toestemming eers verkry word om die hoofwatertoevoerpyp permanent daaraan te koppel.
Die bron sê water in Warrenton kos ’n fortuin. Twee watertenkers van die staat, en twee van private kontrakteurs is glo vir waterverskaffing verantwoordelik.
“Tans kry die munisipaliteit geen inkomste uit waterverbruik nie, terwyl dit ’n dodelike uitgawe is”.
Weke gelede is voorstelle uit die gemeenskap en van instellings buite die dorp om die raad met die herstel van die watertoevoer te ondersteun, glo ignoreer.
’n Kunstenaarsoptrede ten bate van waterverskaffing is op kort kennisgewing kanselleer ná beweerde dreigemente sou die vertoning voortgaan.
Inwoners het boonop op 4 April ’n skrywe van die raad ontvang waarin hulle ingelig is dat die Magareng-munisipaliteit nie daarin belang stel om saam met hulle om ’n tafel te sit om die situasie te beredder nie.




