’n Vragmotor wat gebruik word om water na inwoners van Warrenton te vervoer, het laatmiddag op Vrydag 26 Mei omgeslaan.
Die twee watertenks wat agter-op die vragmotor was, is in stukke en totaal onbruikbaar.
Dit vergroot die waterkrisis in dié Noord-Kaapse dorp langs die Vaalrivier wat op sulke vragmotors en “eie planne”, aangewese is om water te kry.
Die ongeveer 25 000 inwoners is reeds sedert einde Februarie sonder lopende water nadat ’n deel van die hoofwatertoevoerpyp in die vloed beskadig is. Die pyp strek vanaf die waterwerkaanleg noord van die dorp, deur die Vaalrivier, na die dorp.
Sedertdien het vier vragmotors, wat watertenkwaens en vragmotors met watertenks agter-op insluit, water na inwoners vervoer. Die vragmotors behoort aan die Magareng-munisipaliteit en ’n kontrakteur.
Volgens die inwoners is van die vragmotors gereeld buite-werking, met slegs een of twee wat water verskaf. Verlede week, tydens ’n besoek aan die dorp, het van die inwoners vertel dat hulle tot drie weke vir die aflewering van water kan wag.
Volgens Thapelo Jacobs van die Magareng-munisipaliteit het die insittendes van die vragmotor slegs geringe beserings tydens die ongeluk opgedoen.
Hy het die bespiegelinge dat die bestuurder onder die invloed van alkohol was, ontken. Die vragmotor wat omgeslaan het, behoort aan die kontrakteur.
Volgens hom is daar drie vragmotors beskikbaar om water aan die verskillende dorpswyke te verskaf.
Sondag laatmiddag was daar verskeie klein brande op die oop stukke veld in en om Warrenton. ’n Vraag het ontstaan oor hoe die dorp brande sal blus terwyl lopende water of ’n mobiele brandbestryder met ’n hoëdrukpomp nie beskikbaar is nie.
Hierop het Jacobs gesê dat die Frances Baard-distriksmunisipaliteit in sulke gevalle uithelp.
’n Ingeligte inwoner van die dorp sê egter dat ook “brandweersake” in Warrenton ’n “teer sakie” is. Volgens die persoon spring individue van die dorp en onmiddellike omgewing gewoonlik in wanneer ’n brand bestry moet word.
Jacobs het voorts gesê dat die munisipaliteit die aangewese kontrakteur sal aansê om onverwyld die tydelike en permanente plan vir die herstel van watertoevoer na die dorp uit te voer.
- Lees ook die artikel as agtergrond oor Warrenton se voortslepende waterkrisis.


