Ná ses maande van droë krane het van Warrenton se inwoners onlangs die vreugde ervaar om weer ’n kraan te kon oopdraai.
Die vreugde is egter kort van duur en nie almal beskore nie weens die watertoevoer wat nog nie standhoudend is nie.
Net laagliggende dele in sommige gebiede het water, sê Willem Potgieter, DA-raadslid.
Die terugkeer van water in van die krane is te danke aan die ou waterpyp deur die Vaalrivier wat oplaas herstel is nadat dit in Februarie in ’n vloed beskadig is.
Omdat die reservoirs en al die waterpype vir maande leeg was, neem dit baie lank om te vul. ’n Groot aantal nuwe lekplekke in waterpype het ontstaan, wat daartoe bydra dat die reservoirs nie behoorlik gevul word nie.
Dat die wateraanleg oud is en onvoldoende kapasiteit vir die vraag lewer, dra verder tot die watertekort by.




