Willem Barnard, en sy vrou, Sally, geniet oggendkoffie op safari.

Foto: Helena Barnard

In die byna 60 jaar van sy bestaan was dit nog slegs die Covid-19-pandemie wat verhoed het dat dié safari-onderneming se kenmerkende groen International-voertuie swaargelaai vir ’n safari vertrek. 

Meer as twee jaar lank het dié onderneming se tientalle voertuie ongebruik gestaan, terwyl die reuk van veldgras, wat as’t ware in die bekleedsel ingetrek het, mettertyd met ’n stofreuk vervang is. 

Hoewel regulasies van dié pandemie oor die wêreld heen verslap is, het mense se vrees vir reis steeds ’n negatiewe invloed. Dit word veral veroorsaak deur die onsekerheid wat weens die pandemie se gedurig-veranderende regulasies aan die ander kant kan wag. 

Só vertel Willem Barnard, eienaar van Penduka Safaris, wat as die oudste mobiele safari-onderneming in Botswana beskou word. Sy pa, Izak, het reeds in 1963 belangstellendes na die destydse Betsjoeanaland geneem. 

Barnard, ’n Suid-Afrikaner van geboorte, het van baie jongs af saam met sy pa op safari’s gegaan en het in 1995 die onderneming oorgeneem.  

Die pandemie het toerisme oor die wêreld heen hard getref, en daarvan kan Barnard getuig. Meer as twee jaar lank kon hulle geen safari doen nie. Daar was vir dié tyd geen inkomste nie, maar die basiese uitgawes het nie gestop nie.   

“Hoewel die pandemie nou verby is, is toerisme-volumes steeds baie laag. ’n Verdere nadraai is inflasie. Boonop was daar ’n lang onderbreking in die voorsieningsketting, en ervaar ons ’n tekort aan produkte, soos voertuigbande en onderdele.”
Willem Barnard

Barnard, wat die onderneming van sy eiendom langs die Thamalakane-rivier buite Maun in Botswana bedryf, se ander bron van inkomste het ook tydens die pandemie opgedroog. Wanneer hy nie met ’n safari weg is nie, is hy ’n vlieënier en instrukteur vir ’n huurvliegtuig-onderneming van die Maun- Internasionale Lughawe. Benewens die toeriste wat hy oor onder meer die Okavango-delta vlieg, vlieg hy voorraad of toeriste na van die talle luukse lodges in die delta.

safari

Die geteerde Trans-Kalahari-hoofweg strek vir honderde kilometers wes van die Sentraal Kalahari.

Om ‘n grens oor te steek

Om ná jare weer Botswana van die Ramatlabama-grenspos duskant Mmabatho binne te ry – kort nadat nie eens meer ’n negatiewe Covid-19-toetsuitslag by die grenspos nodig is nie, en slegs ’n inentingsertifikaat – is so goed soos ’n vakansie. 

Byna onmiddellik nadat die grens oorgesteek is, sien ’n mens dit raak: Dit is skoon; met weinig rommel wat deur die winterwind rondgewaai word.

Selfs in die klein gehuggies langs die A2-roete via Kanye, Jwaneng, Kang, Ghanzi na Maun is slegs ’n asblik hier en daar tot oorlopens vol rommel. So ver soos dié Trans-Kalahari-hoofweg strek, is groepies mense besig om rommel op te tel; of gras te sny en bome te snoei. 

Vroeër jare was hierdie roete wes van die Sentraal-Kalahari-wildreservaat ’n vierspoorsandpad en het dit drie dae geneem om van die Suid-Afrikaanse grens tot in Maun te reis. Vandag kan dit in een dag gedoen word.

Van Maun, die poort na die delta, lei ongeteerde paaie (wat nie sonder ’n 4×4-voertuig aangedurf kan word nie) na die wild-paradys van die Moremi-, Savuti- en Chobe-wildreservaat. Chobe kan wel per teerpad via Francistown, Nata en Kasane aan die oostekant van die Sentraal-Kalahari bereik word, maar dan moet die ongeteerde roetes na Savuti en Moremi steeds aangepak word. 

Besoekers word afgeraai om enige pad in Botswana in die nag te ry. Behalwe die gevaar van vaal, bykans onsigbare donkies, of blitsige koedoes, is daar ook die moontlikheid van ’n olifant of tien in die pad.    

safari

‘n Elegante luiperdwyfie, met ‘n wip in haar stert.
safari

‘n Leeu in die pad, rustig in die oggendsonnetjie.
safari

Om olifante voor jou, rondom jou, teenaan jou in die wildreservate in Botswana te sien, is nie buitengewoon nie.
safari

Willem Barnard besig om die voertuie se bande te pomp ná ‘n lang pad met dik sand waarvoor die bande afgeblaas word.

Beplanning, respek en gesonde verstand

Vir Barnard, met ’n tersiêre kwalifikasie in natuurbewaring, is daar min dinge beter as om in afgeleë dele van Botswana, Namibië of Zambië te wees. 

Ná dekades in die toerismebedryf is daar min aspekte waarvan hy nie eerstehandse kennis het nie. Dit strek van waarneming van wilde diere, interaksie met toeriste van oor die wêreld heen en kamp-opslaan vir standaard- of luukse safaris, tot die aandurf van uitdagende paaie met ’n swaargelaaide 4×4-voertuig en om op die mees ongeleë plek meganiese herstelwerk te moet doen.

Al hoe meer individue durf dié wildernisgebiede aan – hetsy met ’n gehuurde 4×4-voertuig; as ’n groep vriende of familie; of as ’n betalende lid van ’n toergroep waar elkeen in sy eie voertuig ry. 

“Beplanning, respek en gesonde verstand” som Barnard se talle wenke aan dié “self-drivers” op. Hy sê ook:

  • Beplan en doen besprekings vir kampeerplek in die reservate. Moenie aanneem jy kan ’n kampeerplek deel nie; of dat jy eers by die hek kan uitvind of daar wel plek beskikbaar is nie. 
  • Maun (asook die ander groter dorpe in Botswana) het al die kettingwinkels wat in Suid-Afrika is, waar voorraad gekoop of aangevul kan word. “Moenie met ’n vol kampvrieskas hier aankom nie. Kom ondersteun die plaaslike ekonomie,” raai hy aan, en noem dat rooivleis hier byvoorbeeld van baie goeie gehalte is. Van die kettingwinkels se slaghuise, asook private slaghuise, sal boonop die vleis vakuumverpak met voorafbestellings, wat sal meehelp dat die vleis veel langer vars bly indien die kampvrieskas besluit om die gees te gee. Hoewel baie toeriste sonder die deursoeking van ’n voertuig oor die Botswana-grens kom, vind dit wel plaas. Dan mag sekere voedselprodukte afgevat word omdat dit nie toelaatbaar is om oor die grens te neem nie. 
  • Ry in ’n groep van twee tot maksimum ses voertuie. Om hierdie gebiede in ’n enkelvoertuig aan te pak, is glad nie aan te beveel nie. Vermy terselfdertyd groot groepe van meer as ses voertuie. Jy wil tog nie net in ander se stof ry nie. 
  • Kommunikasie is belangrik; hetsy in die vorm van ’n satellietfoon of radio-verbinding. Selfoonseine is in groot dele en in die reservate glad nie beskikbaar nie. 
  • Selfs splinternuwe voertuie kan breek. Sleepwaentjies en boskaravane is op baie van hierdie paaie ’n frustrasie vir die bestuurder en veroorsaak ’n aanhoudende ruk-en-stampbeweging aan die voertuig wat oor ’n tydperk ongetwyfeld in ’n meganiese probleem van een of ander aard gaan ontaard. 
  • Hou genoeg kontant by jou, wat jou van groot dorp tot groot dorp kan hou. Dit kan gebeur dat kaartmasjiene nie oral werk nie. 
  • Die “moet sien”-besoekpunte wat op sosialemediaplatforms en op toerisme-inligtingstukke genoem word, is nie altyd bereikbaar nie, soos byvoorbeeld Dead Tree Island. Die delta beleef twee nat seisoene per jaar, sê Barnard. Die eerste is die reënseisoen in die somer; en die tweede is in die wintermaande wanneer die water vanaf die vloedvlaktes van Angola in die delta aankom. Dit veroorsaak dat die water in die delta aanhou styg en paaie onbegaanbaar raak. 
  • Moenie slegs op jou GPS staatmaak om jou deur die gebiede te kry nie; nog minder moet jy glo omdat jy foto’s gesien het van voertuie wat deur die water ry, jy dit ook kan doen. Uit jare se eie dure ondervinding weet Barnard dat talle paaie wat met water oorspoel is, nie begaanbaar is nie. “Koop ’n goeie kaart, al het jy ’n GPS,” sê hy. “Moenie deur water ry wat buite jou beheer is nie. As jy nie deur die water kan stap nie, en die water is hoër as die bokant van die voertuig se wiel, is dit ’n risiko om daardeur te wil ry.” Natuurlik moet ’n mens ook dubbel seker maak dat ’n krokodil of seekoei nie saam met jou die oorspoelde pad wil besoek nie.
  • Respekteer en volg die parkwette wat gepubliseer is. Moenie van die paaie afry nie. Moenie vuur onder bome of op boomwortels maak nie. Daar is enkele areas waar jy hout mag bymekaarmaak. Moenie takke of bome afbreek nie. Tel droë hout op. 
  • Skakel die voertuig se enjin af wanneer wilde diere besigtig word. “Die geluid van ’n enjin wat luier, irriteer die meeste diere, en die ander toeriste rondom jou,” sê Barnard. Hy vertel van groepe toeriste wat hy al teëgekom het wat nie eens die venster oopdraai, of die musiek sagter stel wanneer hulle diere besigtig nie. 
  • Moenie kampeer waar jy nie mag nie. Moenie oneerlik wees en voorgee dat jou voertuig onklaar geraak het net om byvoorbeeld naby ’n watergat te kamp nie. “Die watergat behoort aan die diere. Om daar te kamp, skrik die diere af en jy dring jouself in hulle plek in.” Hy het al op “raad” op onder meer Facebook-groepe afgekom waar voorgestel word dat ’n mens net ’n “break-down moet stage” en dan kampeer jy waar jy wil. Sulke raad, sê hy, bots lynreg met alles waaroor liefde vir die natuur gaan.
  • Geen rommel mag in die veld begrawe word nie. Alle rommel wat nie in die kampvuur verbrand word nie, moet saam met jou geneem word. Selfs die toiletpapier, vir die onvermydelike draai agter die bossie, moet in ’n plastieksakkie geplaas word en in die kampvuur verbrand word. Barnard vertel van vele kere dat hy padlangs op toeriste afkom wat agter hul voertuig (en dus voor syne) “ ’n draai loop”, net om die stuk toiletpapier oop en bloot op die pad te los.   
  • Wanneer ’n mens foto’s van die plaaslike bevolking wil neem, klim uit, groet hulle, en vra hul toestemming om ’n foto te neem. “Moenie net deur die venster hang, hulle afneem en wegry nie. Dit is ongeskik. Dink jouself in hul posisie in.” 
  • Wees daarop bedag om nie in ’n “radio-toeris” te ontaard nie en net na aanleiding van inligting op radioverbindings “van een leeu na die volgende leeu” te jaag sonder om enigiets anders raak te sien. 
  • Wanneer ’n gesogte wilde dier – gewoonlik ’n leeu of ’n luiperd – raakgesien word, bly in die pad (en in die voertuig). Barnard vertel van kere dat voertuie – tot 16 in een konvooi – aan weerskante van die pad in die veld ry wanneer ’n leeu of luiperd raakgesien is; en van kere dat die dier so “gejaag” word, dat hy heeltemal verwilderd raak. 
  • Wanneer ander voertuie reeds naby of by die dier gestop het, moenie voor die voertuie indruk nie. “Tien minute by so ’n besigtiging,” sê hy, “en dan ry jy aan en gee vir die volgende persoon kans.” 
  • Laastens, sê Barnard, gebruik jou gesonde verstand wanneer jy in die wildernis is. “Jy kan nie hier gaan stap, draf of fietsry om sogenaamd kop skoon te maak nie. Die parke behoort aan die wilde diere; hulle is oral en van hulle is baie gevaarlik.”

Sy pleidooi aan besoekers is om hierheen te kom en af te skakel van die wêreld waar jy vandaan kom; om die natuur met respek te beleef, en die grootsheid daarvan in te neem.

“Hier lewe ek my droom. Hier is al my belangstellings; my voertuie, die wildlewe, die natuur, geleentheid om te vlieg. Ek is nog nie klaar hier nie,” sê hy.

“Stop, stop,” wys die spietkop 

Ná ’n paar dae op safari verloor ’n mens tred met tyd, met ander aktiwiteite wat jou dae vul: “Kyk uit vir ’n luiperd wat op ’n dwarstak van ’n boom sal lê,” of “Sit stil, hy groet net,” vir wanneer ’n olifant teen die voertuig kom staan met sy slurp tastend in die lug, of “Leeuspore. Vars. Hy het in die rigting geloop waarin ons nou ry.”  

Om midde ’n trop van meer as 800 snorkende buffels te wees, is ’n voorreg; om ’n werpsel klein wildehondjies te beleef wat grom en oor ’n stok baklei, waarskynlik ’n eenmalige belewenis.  

Om saans, wanneer praat oorbodig geraak het, om die kampvuur te sit en in die immerdansende vuurfigure se spel verlore te raak, terapeuties.

Om laataand na die miljoene sterre op te kyk, en op daardie oomblik ’n Starlink-string gekoppelde satelliete te sien, onwerklik.

Om snags knus in die kampbed te lê en die brul van leeus, die hekselag van hiënas of die nurk van seekoeie te hoor, die beste slaaptydstorie.

Terloops, die mees seker manier om van jou laaste vakansiegeld ontslae te raak is om nie die spoedbeperkings op die Trans-Kalahari-hoofweg te volg nie. Voor en ná enige gehuggie of busstop (waarvan daar vele is), verander die spoedbeperking van 120 km/h na 80 km/h, na 60 km/h. Bly maar hierby.

’n Polisievoertuig met ’n blou lig kan uit die niet uit verskyn, boonop met ’n hand deur die venster wat “stop, stop” beduie.

Hulle wil nie groet nie; hul radars het jou as ’n spoedoortreder geïdentifiseer. Geen mooipraatjies gaan help nie. Sommer daar en dan – nadat langdradige vorms ingevul is – veeg jy jou bankkaart deur die kaartmasjien in hul voertuig om die boete te vereffen. 

Ry daarna wetsgehoorsaam voort, en bedink die lewe; die safari wat verby is; die werklikheid wat wag.

Dalk sal ’n mens dan sug en sê: “Was die lewe maar ’n safari.” 

safari

Laatoggend-tee, met ‘n uitsig oor die Chobe-rivier.
safari

‘n Skildermooi landskap in die Moremi-wildreservaat.
safari

Om ‘n trop wildehonde met kleintjies te sien is ‘n besondere belewenis.
safari

  “They say an elephant never forgets. What they don’t tell you is, you never forget an elephant.” – Bill Murray
safari

Die kamplewe van ‘n safari neem jou ver van die werklikheid.
safari

Die winterson sak rooi agter ‘n stof- en rookskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article