Inwoners van Warrenton voel hulle het breekpunt bereik oor die dorp se voortslepende watertoevoerprobleme. Dié Noord-Kaapse dorp is reg teen die Vaalrivier vanwaar die water gepomp word.
“Ek sit maar nog bedroef en kyk teen die droë tappe vas” sê een inwoner, terwyl ‘n ander een ná beloftes dat water op pad is, sê: “My kraan is wawyd oop, maar niks, niks.”
Dinsdag teen druktyd het talle inwoners in ‘n deel van Warrenton nog geen water in die krane gekry nie – nadat hulle vir ongeveer drie weke sonder lopende water moes klaarkom. Inwoners in ander dele van die dorp, wat deur dié onlangse onderbreking benadeel is, het op dié tydstip al drupsgewys begin water kry, hoewel boodskappe toe reeds rondgestuur is dat water op verskillende lekplekke uit die toevoerpyp stroom.
Onlangs moes inwoners van ‘n straat in die dorp vir 20 weke sonder lopende water klaarkom weens een las in ‘n toevoerpyp wat vervang moes word.
Inwoners vertel dat diegene wat herstelwerk doen, “aan en af” werk, en glad nie soos iemand wat noodherstelwerk doen nie.
Nog ‘n inwoner van die dorp, wie heffings aan die Magareng-munisipaliteit moet betaal, ontvang al nege jaar geen water in munisipale pype nie weens ‘n tegniese kwessie wat nie deur die munisipaliteit opgelos kan word nie. Dié persoon maak nou van ‘n boorgat gebruik.
Dorp het gereeld vir maande, weke aaneen nie water
Warrenton was in 2023 gereeld in die nuus omdat inwoners vir meer as ses maande nie lopende water gehad het nie.
Dit het gevolg ná ‘n 30m-gedeelte van die 500mm-hoofwatertoevoerleiding tussen die Warrenton-waterverwerkingsaanleg en die dorp se reservoirs tydens ‘n vloed in Februarie van daardie jaar beskadig is. Dié pyp strek oor die Vaalrivier.
Daar is voorspel dat die herstel van die pyp enkele weke sou duur, maar ná maande wat as ‘n politiekery beskryf is, het inwoners steeds met droë krane gesit.
In Mei 2023 het Marie Sukers, voormalige ACDP-LP, ‘n oorsigbesoek aan Warrenton gebring. Toe was reeds meer as R5,5miljoen bestee om die watertoevoer “tydelik” en “permanent en meer volhoubaar” te herstel, maar lopende water was steeds nie beskikbaar nie. Op daardie stadium was daar ook ‘n hofinterdik teen lede van die gemeenskap om die munisipale terrein te betree. Dit het gevolg op ‘n aksie waar hulle in protes teen swak dienslewering rommel in die munisipale kantore uitgegooi het.




Vullisverwydering, uitpomp van dreine bly agterweë
Behalwe powere watervoorsiening aan die dorp, is die munisipaliteit se vragmotor wat vullissakke moet verwyder, glo reeds vir ongeveer twee jaar buite werking. Sommige inwoners ry self hul vullissakke weg, of betaal ander om dit te doen. Diegene sonder eie vervoer of wie nie kan betaal vir so ‘n diens nie, raak van die sakke in oop ruimtes ontslae.
Die uitpomp van dreine vind glo slegs ná ‘n groot gesmekery en gewag plaas.
“Een van die dae stink hierdie dorp nog erger as wat hy reeds stink omdat die dreinlorrie nie loop nie,” merk ‘n inwoner op. ‘n Ander een vertel van ‘n agterplaas wat met rioolwater oorstroom is omdat die drein nie leeggepomp word nie. Boonop, weens die vol drein, druk die water al meer in die afvoerpype in die huis op. Die reuk is ondraaglik.
“Ek is so siek van die vrotsels, ek hoes aanhoudend,” sê die inwoner.
Vingers wys na wanbestuur, onbevoegdheid, ontoeganklikheid
Blykbaar is die munisipaliteit nie in besit van ‘n waternetwerkkaart nie, en wanneer herstelwerk moet plaasvind, “grou hulle soos meerkatte” op soek na die pype.

Inwoners skryf die gebrek aan dienslewering aan onbevoegdheid en wanbestuur toe. Hulle is van mening dat munisipale amptenare ontoeganklik is en wanneer hulle wel kommunikeer, is dit nie noodwendig die waarheid nie.
Ander is van mening dat dit “dwase” is wat die tenders kry, en dat dit wat plaasvind, politieke sabotasie is. Weens die politiekery word die enkeles wat sinvolle bydraes met die herstel van die waternetwerk kan maak, ignoreer of uitgewerk.
“Mens voel of ons soos grensspringer-buitelanders behandel word,” sê een, terwyl ‘n ander sê: “Ons soek ons regte om water in die huis te hê. Ons soek ons regte in Warrenton, hier waar ons bly.”
Sommige inwoners is van mening dat ‘n watermafia in Warrenton bedrywig is. Indien dit nie die geval is nie, kon die waterprobleme van ‘n dorp so klein soos Warrenton, en boonop teen die rivier, lank reeds opgelos gewees het.
“Hierdie baklei oor water kom nou al nege jaar en in daai tyd kon nog niemand met ‘n antwoord of oplossing kom nie. So ek dink nie dit gaan in die nabye toekoms gebeur nie. Dis altyd net ‘n tydelike oplossing met bloudraad, tang en insulation tape. Dis soos ‘n pleister op ‘n skietwond,” sluit nog ‘n inwoner af.
Die Magareng-munisipaliteit sal vir kommentaar genader word.







You must be logged in to post a comment.