’n Groep vroue van Warrenton het Maandag (07/08), in die week dat Nasionale Vrouedag plaasvind, ’n memorandum met griewe aan die burgemeester van die Magareng-munisipaliteit, Neo Mase, oorhandig.
Ná ses maande sonder lopende water is dié vroue se hoofeis water in die krane, en nie uit tenks of van vragmotors af nie.
Hulle is ook uiters ontevrede oor die munisipaliteit se onvermoë om behoorlik met die gemeenskap te kommunikeer, en om hulle feitelik oor die stand van die waterkrisis in te lig.
“Slegs wanneer ons dreig om te toi-toi, word daar plasings op groepe gedoen wat sê dat die watertoevoer teen die agtermiddag herstel sal wees,” lui die memorandum, “net om nog ’n maand later steeds nie ’n druppel water in die krane te hê nie.
“Terwyl die burgemeester foto’s plaas van haarself saam met mede-comrades in ander dorpe, ly ons”.
Die vroue is ook bekommerd oor die skrywe wat hulle onder oë gehad het dat ’n tender vir ’n jaar vir die verskaffing van watertenkwaens gevra is.
Mase en die munisipaliteit het sewe dae tyd, tot 16 Augustus, om op die memorandum te reageer.
Verlede week het dit bekend geraak dat die kontrakteur wat die nuwe hoofwatertoevoerpyp aan die Magrieta Prinsloo-laagwaterbrug heg, ook nou getaak is om die ou pyp wat deur die Vaalrivier strek te herstel.
Dinsdag is jeugdiges van die Expanded Public Works Programme (EPWP) na dié onvoltooide pypstelsel oor die rivier ontbied om met sekere handwerk te help, blykbaar onder meer die pak van sandsakke om die vloei van die water te herlei.
Hieroor is gemeenskapslede benoud en hoop dat die jeugdiges, wat geen ondervinding in dié soort werk het nie, behoorlik touwys gemaak sal word.
Verlede week, op Woensdag 2 Augustus, het dit wat lank reeds deur inwoners van Warrenton-dorp, Warrenvale en Ikhutseng voorspel is, ’n werklikheid geword.
“Die straat is vol messtekery oor water – die mannetjies steek mes oor water. Wat moet ons nog oorkom, gemeenskap?”
Dit was die wanhopige stemboodskap wat op die dag op ’n gemeenskapsgroep geplaas is.
Volgens ’n inwoner het twee jong mans van Warrenvale slaags geraak nadat gemoedere oor die voortslepende gebrek aan water, saam met die voortdurende gewag en gewonder oor water, opgevlam het.
“Dit gaan nou rêrig hopeloos te ver. Ons plaaslike en provinsiale regering moes al ingegryp het ná die voorval maande terug toe die ouma en haar kleinkind op die N12 raakgery is oor weereens water – toe moes hulle al ingegryp het,” het nog ’n inwoner gesê.
“Ek voel daar is nog nooit ingegryp van die regering se kant af nie. Ons bly aan die kortste ent trek,” sê nog een.
’n Vroeëre navraag aan die Magareng-munisipaliteit oor die stand van die herstel van die hoofwatertoevoerpypleiding tussen die Warrenton-wateraanleg en die dorp se reservoirs is steeds nie beantwoord nie.
Die hoofwatertoevoerpypleiding, wat deur die Vaalrivier strek, is in Februarie tydens die vloede beskadig.
Sedertdien is die dorp sonder water.
Wat as politiekery beskryf word, is volgens die gemeenskap die hoofrede waarom die herstel van die watertoevoer ná maande nie afgehandel is nie.





