Christo Kemp, die skeidsregter wat in Mei ná ’n rugbywedstryd by die Hoërskool Daniëlskuil aangerand is, se regsverteenwoordiger sê hy voel nie veilig om ná die skoolvakansie as onderwyser na dieselfde skool terug te keer nie.
Kemp se regsverteenwoordiger, wat nie sy naam wil laat publiseer nie, sê Kemp het nog nie voldoende versekering van die skool, beheerliggaam (SBL) of die departement gekry dat sy veiligheid verseker is nie.
Sydney Stander, woordvoerder van die departement van onderwys, sê die skool het reeds met ’n tugverhoor teen een leerling begin, terwyl die ander leerling uitstel gevra het. Sy verhoor en dié van volwasse betrokkenes sal op 13 Julie plaasvind.
“Die sanksies sal ook dan bekend gemaak word. Ons sal die uitslag van ons tugverhore na die Griekwaland-Wes-rugbyunie stuur,” sê Stander. “Dit gaan goed met mnr. Kemp. Die skoolbestuurder is gedurig in kontak met hom om na sy welstand te verneem. Hy het ook aanlyn as getuie aan die tugverhoor deelgeneem. Ons is vol vertroue dat mnr. Kemp gereed is om as onderwyser terug te keer. Ons is opgewonde dat hy weer deel van die personeelkorps word.”
“Die ondersoek teen die twee onderwysers is hangende, waarna die tugverhoor sal volg,” sê Van Straten.
Die Griekwaland-Wes-rugbyunie het die meeste van sy tugverhore afgehandel. Die twee ouers wat toeskouers by die wedstryd was, is verlede week lewenslank uit rugby geskors. Hulle mag aan geen rugby-verwante byeenkomste as toeskouers of verwante aktiwiteite deelneem nie.Hulle het skuld beken op die aanklagte van aanranding en gedrag wat rugby in oneer gebring het. Een o.15-speler is op dieselfde geleentheid skuldig bevind en vir 24 wedstryde geskors, waarvan 8agt wedstryde opgeskort is. Die ander seun (ook 15) is reeds in Junie vir 24 wedstryde geskors nadat hy skuld beken het in ’n virtuele tugverhoor. Die seuns is leerlinge aan die skool.
Die o.15-afrigter van die Hoërskool Daniëlskuil is op aanklagte van verbale aanranding onskuldig bevind. Die span se hulpafrigter wat van fisieke aanranding aangekla is, het uitstel vir sy verhoor gevra. Dit sal na verwagting vandeesweek plaasvind. Hulle is saam met Kemp onderwysers by die skool.





