Vandeesweek is dit tien jaar sedert Karin Muller haar eerste rubriek, onder die naam “Potpourri”, in NoordkaapBulletin (voorheen Noordkaap) publiseer het.
Soos enige rubriekskrywer besef Muller, van Kimberley, terdeë dat so ’n weeklikse rubriek dissipline eis.
As ’n rekenmeester, wat uit die aard van haar werk aan sperdatums blootgestel word, hanteer sy haar weeklikse rubriek soos die sperdatums in haar beroep: Begin betyds, en maak voorsiening vir die onvoorsiene. Op ’n vraag of dit makliker is om vir ’n dekade al rubrieke te skryf, sê Muller: “Hoe langer ek dit doen, hoe groter raak die uitdaging om dit uniek te hou en nie herhaaldelik iets met dieselfde tema te skryf nie.”
Inspirasie vir temas vind sy in die daaglikse lewe.
Ná tien jaar van “uitluister”, besef Muller gereeld dat ons almal mense is wat probeer oorleef en staande bly.
“Almal het uitdagings, hoogtepunte, laagtepunte, frustrasies. Soms voel ’n mens geïsoleer, maar dit help om te weet daar is ander wat dieselfde ondervind.”
Sy kry gereeld terugvoering van lesers wat sê dat hulle identifiseer met iets wat sy geskryf het.
“Dit bring my juis terug by die besef dat ons almal net ’n tydelike draai op moederaarde maak,” sê sy.



