Van links is dr. Dion Theys, Daniel Gaborone, Montgomery Faas, Victor Nyokong en Siyabulela Booi in die beskuldigdebank sigbaar.Foto: Charné Kemp


Dr. Dion Theys, die omstrede departementshoof van die Noord-Kaapse departement van gesondheid wat net verlede week ’n misdaadgeskiedenis gekry het nadat hy met R50 000 beboet is weens strafregtelike aanklagte waarop hy skuldig bevind is, doen Donderdag ’n borgtogaansoek in ’n nuwe saak waarop hy en tien ander van onder meer bedrog aangekla word.

Die nege aangeklaagdes wat Woensdag vroegoggend deur die Valke in hegtenis geneem is, en twee maatskappye, word van bedrog van R16 miljoen met persoonlike beskermingstoerusting (PPE) tydens die Covid-19-inperking van bedrog, geldwassery en oortredings van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) aangekla.

Theys, Daniel Gaborone (54), finansiële hoof van die departement, en Victor Nyokong (41), adjunkdirekteur van finansies, het Woensdagaand in aanhouding deurgebring omdat die staat hul borgtogaansoeke teenstaan omdat hulle vanweë hul posisies invloed kan uitoefen op staatsgetuies en in aanrakings met bewysstukke kan kom.

Theys (56) is vroeër vandeesmaand in ’n afsonderlike saak skuldig bevind op aanklagte van oortredings van die PFMA en met R50 000 beboet. In die betrokke saak het hy onbehoorlike kontrakte aan ’n onderneming toegeken vir studentebehuising vir verpleërs.

Die ander beskuldigdes is Montgomery Lifa Faas (39), adjunkdirekteur by die finansiële afdeling, Siyabulela Booi (38), adjunkdirekteur by die verkrygingsafdeling, Goitemodimo Piet Moseki (50), adjunkdirekteur by die oordraagbare siektes-afdeling, Elizabeth Dibueng Manyetsa (63) adjunkdirekteur by die Verplegingdirektoraat vir oordraagbare siekte, Kanyaditswe MacDonald Visser (44), direkteur van MKV Investment en Kelebogile Bogatso (58), direkteur van Stilofern (PTY) Ltd. Hulle is Woensdag op borgtog van verskillende bedrae tussen R5 000 en R50 000 vrygelaat. Hulle moet hul paspoorte inhandig en weer op 16 Oktober in die hof verskyn wanneer verder besonderhede en die dossier oorhandig word.

Met hul eerste verskyning het die beskuldigdes die bank volgestaan. Theys het kriewelrig voorgekom waarop die landdros hom gevra het of iets skort. Theys het daarop net sy kop geskud.

Lt. kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, sê hulle het reeds op duur besittings beslag gelê soos ’n luukse Bentley Continental GT voertuig en eiendom met ’n gesamentlike waarde van R5,3 miljoen.

Die borgtogaansoek voor landdros Leon Blaauw duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article