‘n Vullisterrein wat deel van die Emthanjeni plaaslike munisipaliteit is.

Foto: Verskaf

As deel van die organisasie se jaarlikse vullisterrein-oudit, is vullisterreine in De Aar, Britstown en Hanover onlangs deur AfriForum besoek.

Dié terreine onder die Emthanjeni- plaaslike munisipaliteit is in ’n haglike toestand, sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari,

Benewens die gebrek aan dienslewering, word die vullisterreine geensins na wense bestuur nie.

Van die paaie by die terreine is in só ’n slegte toestand dat dit byna onbegaanbaar is.

Geen sekuriteitsbeamptes is aan diens nie en niemand beheer wat by die terrein weggegooi word nie en waar.

Enigiets van diere se karkasse tot buitebande word hier gestort.

Verskeie persone woon permanent op die terreine en van hulle steek gereeld vullis aan die brand wat die risiko vir wegholveldbrande verhoog.

Daar is geen sprake of bewyse van ’n padskraper of swaar voertuig wat die verskuiwing van die vullis of die samepersing daarvan kan laat geskied nie.

Die terreine is nie behoorlik omhein nie en vullis waai die wêreld vol.

Ook by die vullisterreine van die Kai !Garib- plaaslike munisipaliteit in Kakamas, Keimoes en Kenhardt gaan dit nie beter nie, en wil dit voorkom of dele van die dorpe besig is om self in vullisterreine te ontaard.

f

Deel van die vullisterrein in Kakamas.

Vullis word oënskynlik nie in hierdie dorpe verwyder nie en hoop in die sypaadjies op, terwyl mensgemaakte vullishope lukraak in onder meer oop erwe en parke opduik.

Ook hier is geen heinings om die terreine gespan nie, geen toegangsbeheer nie en geen wagte op die perseel wat beheer uitoefen oor wat gestort word nie.

Op elke terrein woon daar mense, wat vure aansteek om water te kook en kos te maak. Sodra daar ’n brand op die vullisterreine ontstaan, trek die rook en gifgasse oor die woonbuurte.

“Hierdie droogtegeteisterde gebied kan nie ’n veldbrand bekostig nie omdat daar baie min weiding is,” sê Strauss.

Ook daar is geen kompakteermasjiene, brandkrane, afvoerkanale en elektrisiteit op die terreine nie, en ook geen noodplan sou ’n ramp die vullisterreine tref.

“Daar sal dringend by die haglike toestand van hierdie vullisterreine ingegryp moet word om verdere skade aan die natuur te voorkom,” sê Strauss.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article