“Die roos van die Vrystaat, die diamant van die Noord-Kaap” het dalk haar sokkertalente in die stowwerige strate van Philippolis en De Aar geslyp, maar Vrydag (29/07) op die Kimberley-lughawe is sy soos ’n rockster verwelkom.
Nthabiseng Majiya (18), doelskopper en jongste lid van die Suid-Afrikaanse vrouesokkerspan, het in die Afrika-beker-toernooi haar naam gestand gedoen en Suid-Afrika trots gemaak.
Dit was die gr. 11-leerling aan die Hoërskool Orion in De Aar se enigste doel teen Botswana wat Banyana Banyana na die kwarteindstryd laat deurdring het.
Van daar was die pad oop na glorie. Hulle het Marokko in die eindstryd met 2 – 1 geklop.
Die skaam Nthabiseng kon Vrydag nie haar blydskap verbloem toe haar broer, Katleho (17), en haar oom, Thembisile Majiya, haar met ’n allemintige bos rose kom groet het nie.
Toe sy haar spanmaats van die Richmond United Ladies in die lughawe se ontvangsaal sien, het sy met glinsterende oë en haar medalje voor haar uitgehou, na hulle toe geloop. Gille van blydskap het opgeklink en hul arms het haar omvou.
Desery Fienies, LUR vir sport, kuns en kultuur in die Noord-Kaap, sê die departement is trots op Nthabiseng.
“Ons was deel van haar reis. Sy het die Noord-Kaap trots gemaak. Ons verbind ons daartoe om deel te wees van die res van die reis en sal veral vroue in sport ondersteun.”
Die departement het haar met R10 000 vir haar uitmuntende prestasie verras.
Nthabiseng se sokkerdrome het op agt jaar oud begin toe sy saam met die seuns van haar woonbuurt, Mandela Square, in Philippolis se stofstrate begin sokker speel het.
“Ek het vir my ouma gesê ek wil ’n sokkerspeler word en sy het my drome ondersteun,” sê die meisie wie se grootste droom is om die beste doelskieter ter wêreld te word.
“Om die beste doelskieter te wees, moet ek hard werk. Harde werk gee resultate en daarom gaan ek regtig hard moet werk,” sê sy.
’n Groot glimlag verskyn toe sy daardie ongelooflike oomblik onthou toe sy die doel teen Botswana in die groepfase aangeteken het.
“Die oomblik was net te groot. Dit het gevoel asof my hart ontplof. Ek het net aan die hardloop geraak en saam met my span die oomblik gevier, want ons het daardie doel so nodig gehad om tot die kwarteindstryd deur te dring.”
Thembisile het saam met familie dié wedstryd op die televisie tuis gekyk. Die dak het behoorlik gelig toe Nthabiseng daardie doel behaal het.
“Ons het net gegil en te kere gegaan. Ons kon dit nie glo nie. My droom vir haar is dat sy alles sal bereik wat sy nog altyd wou.”
Katleho sê hy sien op na sy ousus.
“Ek gaan eendag net soos sy wees. Sy is my heldin. Ek wil vir Bafana Bafana speel.”
Nthabiseng gaan nie lank rus nie.
“Noudat ons die Afrika-beker gewen het, is die Wêreldbeker in ons visier.”
Haar naam beteken “Maak my bly”, maar wat sal Nthabiseng die blyste maak?
“Om my familie bly te maak.”




