Henriëtte du Plessis, DA-raadslid, is Maandag (29/05) tot burgemeester van die Gamagara-munisipaliteit verkies. Dit volg op ’n mosie van wantroue teen die ANC-burgemeester wat in die raad geslaag het.
Du Plessis is deur die DA as burgemeester benoem en het teen die voormalige ANC-burgemeester, Edwin Hantise, gestaan. Sy het met agt stemme teen sewe in ’n geheime stemming gewen.
Du Plessis dien sedert Januarie 2015 as raadslid.
Tydens haar aanvaardingstoespraak het sy van haar voorneme laat blyk om die burgemeestershuis te verkoop, die gebruik van ’n burgemeestersvoertuig te skrap en persoonlike sekuriteitsmaatreëls te laat vaar.
Sy het gesê die geld kan eerder aan infrastruktuur- en diensleweringsbehoeftes bestee word.
Harold McGluwa, LPW en Noord-Kaapse DA-leier, sê hy het volle vertroue in Du Plessis om finansiële dissipline na die geteisterde Gamagara-munisipaliteit te bring.



