Die Boesemvriendinne-projek van Solidariteit Helpende Hand het reeds meer as 4 000 gebreide borsprosteses verskaf aan vroue wat hul borste weens borskanker verloor het.
Dié voortdurende breiprojek is in Mei verlede jaar in samewerking met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) begin.
René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand en projekbestuurder van die FroueVonds, sê sy hoop om volgende jaar Oktober meer as 4 000 van die “gemaklike en relatief goedkoop” borsprosteses aan Kansa te skenk, wat op hul beurt dit dan aan vroue ná ’n? mastektomie verskaf.
Anina Meiring, nasionale bestuurder van Kansa en ’n? borskankeroorlewende, vertel die “gebreide outjies werk wonderlik”.
Pakkette bestaande uit ’n brei- of hekelpatroon, die spesiale wol en vulling word teen R60 per pakket aangekoop en onder vrywilligers versprei.
Roux moedig mense aan om aan te hou brei of die breiers te ondersteun deur vir hulle van die pakkette aan te koop. Besoek boesemvriendinne.co. za vir meer inligting.





