’n Paar spoke is tydens die onlangse Kalahari-laer-Voortrekkerkamp, wat by die perdebaan in Kathu plaasgevind het, opgemerk.
Die kamp, in middel-Maart, is deur die Noord-Kaapse Voortrekker-kommando’s van Kathu, Vryburg, Upington en Kimberley bygewoon.
Adri Kruger het die jeuglede oor Afrikaans geleer en die woord “brood” het tot nuutskeppings aanleiding gegee. Ernalize du Toit het oor boeke gepraat, asook die waarde daarvan om in Afrikaans te lees. Oom Sarel von Wielligh, Springbok-toutrekker en jukskeispeler, het hulle in dié sportsoorte touwys gemaak.
Die spookmars was ’n treffer. Nadat elkeen in ’n “meelspook” verander het, moes hulle “erdwurms” – ook bekend as spaghetti – eet.
Die gr. 7-lede het die Afrikanerkind-spesialisasie onder leiding van kampleier Susan van der Berg ondergaan, en die gr. 6-lede die gedenkwaardighede-spesialisasie met projekleier Susan Huxham.
Die Kalahari-laer-kamp is een van drie kampe wat vanjaar vir gr. 7-jeuglede aangebied word. Kamp Meerkat en Kamp Voorslag sal later plaasvind, en alle gr. 7-Voortrekkers kan hieraan deelneem.
Enige lid van die jeug wat by Die Voortrekkers betrokke wil raak, kan Vrydae om 16:00 op die Voortrekkerterrein in Haakdoringstraat in Kathu kom kuier.



