Die gewone troupant, een van die kleurigste standvoëls in die savanna.

Foto: Helena Barnard

“Sodra jy voëls raaksien, begin jy meer raaksien. Jou wêreld vergroot; so ook jou verstaan van die natuur.”

Aan die woord is voëlkenner en spesialisgids Willem Barnard, ook die eienaar van Penduka Safaris, wat beskou word as die oudste mobiele safari-maatskappy in Botswana.

Barnard, reeds meer as 30 jaar heeltyds in dié bedryf nadat hy by sy pa Izak oorgeneem het, kan voëls in ’n oogwink identifiseer en neem gereeld voëlkykers van oor die wêreld heen op gespesialiseerde voëlkyksafaris na onder meer Botswana.

’n Mens begin oplet waarom hulle daar is: soek hulle na vrugte of bessies in ’n boom; na insekte op die grond; na kos in die water?

Dan begin ’n mens oplet dat sommige voëls op die grond loop, terwyl ander spring.

In vlug sal sommige voëls ’n vinnige vlerkgeklap hê; ander stadiger en rustiger; en dan is daar dié wat skynbaar net sweef sonder enige vlerkgeklap; ook dié wat duikbewegings in die lug uitvoer.

Dan begin ’n mens na die verskeidenheid van die vorm en kleur van snawels, beenkleur, veerpatrone en -kleur, oogkleur, algemene grootte, en meer oplet. Elke voël se geroep verskil; en dieselfde soort voël het verskillende roepe vir verskillende boodskappe.

Interessant ook is om te begin waarneem dat sekere soorte voëls die teenwoordigheid van ’n ander soort verkies; of dat hulle verkies om byvoorbeeld saam met ander diere soos beeste, buffels of kameelperde te beweeg.

“ ’n Mens kan voëlkyk op bykans enige plek beoefen: in ’n stad, in jou tuin, in die natuur. Dit kan selfs ’n sosiale geleentheid raak,” sê hy.

Begin só voëlkyk

Barnard se wenke aan voornemende voël­kykers is om ’n verkyker en ’n voëlidenti­fikasieboek aan te skaf. Begin ook om boek te hou van al die voëls wat jy al gesien het, of maklik kon identifiseer.

Amptelike voëlkyk-lyste is beskikbaar, en sodra ’n mens op so ’n lys begin afmerk, verhoog die geesdrif vinnig.

Sluit jou by ’n plaaslike voëlkykklub aan, en neem deel aan voëltellings wat onder meer in nasionale parke aangebied word, raai hy aan.

“Voëlkyk hou waarde vir ’n kind se wêreld in, en hulle kan van kleins af aangemoedig word om voëls raak te sien en te identifiseer,” sê hy.

“Voëlkyk is ontspannend,” voeg hy by, “en om na voëlgesang te luister, terapeuties.”

Ontdek voëlgesang as sleutel tot soveel

In ’n navorsingsartikel wat in 2013 in BBC News Magazine verskyn het, skryf Julian Treasure dat mense voëlgesang as ontspannend en gerusstellend beskou. Dit is glo omdat die mensdom oor duisende jare reeds geleer het dat solank die voëls sing, die mens veilig is. Wanneer voëls ophou sing, dui dit aan dat gevaar naby is, skryf Treasure.

Boonop is voëlgesang die natuur se wekker – sodra skemer breek, begin die gesang.

Treasure skryf dat sekere geluide, wat voëlgesang insluit, dit makliker vir mense maak om te fokus, terwyl dit hulle terselfdertyd verstandelik stimuleer én laat ontspan.

Opnames van voëlgesang word in sommige hospitale gespeel voor pasiënte operasies moet ondergaan; en ook in stiller wag-areas by sekere internasionale lughawens.

Dié artikel verwys ook daarna dat voëlgesang bydra om ’n mens se perspektief te verander. Deur voëls dop te hou, en na hulle te luister, word die mensdom daaraan herinner dat daar volledige en florerende gemeenskappe bestaan wat niks met ons te doen het nie.

Voëls gaan aan met hul voëllewe van maats soek, eiers lê, kuikens grootmaak, kos vind, oorlewing.

“Hulle bemoei hul geensins met ons nie,” lui die artikel. “Ons is die middelpunt van ons wêreld, maar ons is nie die middelpunt van hulle s’n nie. Soms is dit goed om jouself daaraan te herinner.”

Boonop, volgens nationalgeographic.com, is dit deur navorsing bevind dat die verandering van voëls en ander diere se gedragspatrone op komende natuurrampe soos tsunamis en hewige donderstorms kan dui.

Voor ’n tsunami sal voëls byvoorbeeld in groot swerms meteens weg van die kuslyn die binneland invlieg; of voëls wat dit nie normaalweg doen nie, sal meteens op die grond onder bome skuil.

Ook sal mense wat op die gesang van voëls bedag is, gou aan hul gekwetter agterkom dat daar byvoorbeeld ’n slang in die nabyheid is.

Raak plaaslik betrokke

Brian Culver, ’n geesdriftige voëllewefotograaf van Kimberley en stigterslid van die Gariep-voëlklub, vertel Kimberley en omgewing bied ’n magdom geleenthede vir voëlkyk, soos Rooifontein, Marrick, Magersfontein, Platfontein, Mokala- Nasionale Park, Rooipoort, Spitskopdam, Benfontein en Dronfield.

Talle voëlklubs bestaan in Suid-Afrika, asook geleenthede om meer van geveerdes te leer en betrokke te raak. Dit sluit onder meer voëltellings in.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article