Tientalle winkels is die naweek van 16 November in die Noord-Kaap gesluit ná inspeksies van spanne wat onder meer die verkoop van verouderde en besmette voedsel aanspreek.
In die Kimberley-omgewing is 33 spaza- en snoepwinkels Saterdag inspekteer, waarvan slegs sewe aan nakomingsvereistes voldoen het; 26 is gesluit weens onder meer die nie-nakoming van regulasies en higiëniese redes.
Daar is beslag gelê op groot hoeveelhede voedsel en ander artikels, insluitend voedsel wat ’n vervaldatum bereik het, beskadigde blikkies kos en vrot groente en vrugte.
In Barkly-Wes, Delportshoop, Warrenton, Hartswater en Ritchie is 34 sulke winkels Sondag inspekteer, waarvan slegs twee aan regulasies voldoen het. Die ander 32 is gesluit weens nie-nakoming en omdat dit sonder ’n geldige lisensie bedryf is.
Ook hier is beslag gelê op ’n groot hoeveelheid voedsel-artikels wat verby die vervaldatum is, vrot vleis, beskadigde verpakkings en meer.
Veldtog gemik op voedselveiligheid
Dié inspeksies kom ná die bekendstelling van die Noord-Kaapse voedselveiligheidsveldtog wat daarop gemik is om bewustheid te kweek oor die belangrikheid van veilige voedselhanteringspraktyke en die voorkoming van voedselverwante siektes.
Betrokkenes in dié veldtog, gelei deur die Noord-Kaapse provinsiale regering, sluit die SAPD, omgewingsgesondheidspraktisyns, distriksmunisipaliteite en die departement van binnelandse sake in, sê brig. Mashay Gamieldien, provinsiale polisiewoordvoerder.
Dit volg op onlangse voorvalle van voedselvergiftiging en sterftes weens voedselverwante siektes oor die land heen.
Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydagaand tydens ’n openbare aankondiging by die Uniegebou in Pretoria gesê dit is bevind dat 22 kinders die afgelope paar weke dood is ná die inneem van voedsel.
Sedert September is boonop sowat 890 voedselverwante siekte-voorvalle in alle provinsies aangemeld.
Ramaphosa het talle ingrypings wat onmiddellik van krag is, aangekondig.
Hy sê hoewel die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes bevind het dat talle van die sterftes plaasgevind het ná die inneem van voedsel wat by spaza-winkels en straathandelaars gekoop is, is die ingryping nié uitsluitlik op spaza-winkels van buitelanders en straathandelaars gemik nie.
Hy het ook gesê dit is waninligting dat daar ’n doelbewuste poging van vergiftiging is.

Gevaarlike chemiese middels algemeen, onwettig verkoop
Dit is bevind dat die dood van die ses kinders onlangs in Soweto weens ’n hoogs dodelike chemiese middel was wat algemeen en onwettig deur handelaars gebruik word om peste, soos rotte en muise, te beheer.
Intussen lewer die polisie in die Noord-Kaap ’n pleidooi aan inwoners om die spanne toe te laat om hul inspeksies uit te voer.
Gamieldien sê deur die inspeksies van die inter-regeringspanne sal voortgegaan word om onder meer voedselprodukte wat nie meer veilig vir gebruik is nie van die winkelrakke te verwyder, en sodoende te verhoed dat dit aan gemeenskappe te koop aangebied word.
Die inspeksies sal na al vyf distrikte van die Noord-Kaap uitgebrei word.






