Van links is Lo-Ami Koekemoer (voorsitter van die Kimberley-tak), Snoekie Erasmus (sirkelpresident van Kimberley en distrik) en Mari Wilmans (ere-sirkelpresident).

Foto: Helena Barnard

Toy Bosman van die Hartswater-tak is die wenner in die gevorderde afdeling vir blommerangskikking.

Die Tadcaster-tak van die Sirkel Kimberley en distrik van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland (VLVK) is verlede week as die wentak vir 2022 aangewys.

Verskeie ander trofeë is ook op die 89ste konferensie op 2 Maart in Kimberley oorhandig.

Benewens gassprekers, onder andere Wilhelmina Thirion van Kokkedoor-faam, was kompetisie-inskrywings vir gebak; lekkers; preservering; weef-, hekel-, brei- en masjienwerk; sakke gemaak met dasse; “dot art”; versierde boeke; en nog meer te sien.

Blommerangskikkings met die tema “Uit my man se werkswinkel” het ook vele inskrywings getrek.

Dié konferensie is deur die Kimberley-tak organiseer. Lo-Ami Koekemoer, voorsitter, vertel dat die Sirkel Kimberley en distrik uit ses takke oor ’n wye gebied bestaan.

Dié takke is van Hartswater, Tadcaster, Warrenton, Hopetown, Douglas en Kimberley.

Die VLVK is naas die ACVV die oudste vereniging, en is op 15 Oktober 1929 deur Jossie Ackermann ná ’n vergadering te Franschhoek tot lewe geroep. Ackermann, wat beskryf is as “oorvloedig in goeie werke”, het die vereniging begin om aan die volwasse vrou leiding te verskaf met opvoeding, gesondheid, huisvlyt, kuns en ontspanning.

Vandag is die VLVK se doelwitte steeds om vroue by te staan en aan te moedig om meer ingelig te wees en om te help om behoeftes in die gemeenskap raak te sien en op te los.

Dit word gedoen deur projekte waardeur die vereniging na individue, groepe en die gemeenskap kan uitreik.

Die VLVK bied aan sy lede geleentheid vir persoonlike groei en vooruitgang, en bied maandelikse praatjies, demonstrasies, uitstallings of georganiseerde uitstappies aan.

Dit word in ses rigtings gedoen: kunste en handvlyt, gesondheid, opvoeding en kultuur, leefstyl, openbare sake, en land- en tuinbou.

In 2024, wanneer die VLVK sy 90ste bestaansjaar vier, word die sirkelkonferensie deur die Hopetown-tak aangebied.

Die volgende vergadering van die Kimberley-tak vind op Saterdag 1 April by die saal van die Minerva-aftreeoord in die stad plaas. ’n Lugbraaier-demonstrasie is deel van dié verrigtinge.

Om navrae te rig, skakel 084-670-4331.

Suritha Pretorius, voorsitter van die Tadcaster-tak, wat as die wentak aangewys is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article