Terwyl besoekers na die Augrabies- Nasionale Park stroom om die waterval vir die tweede keer vanjaar in vloed te sien, skuif inwoners al langs die vloedlyn van die Vaal- en Oranjerivier besittings weg van die waterlyn of maak hulle planne teen die oorstromings wat kan volg.
Verlede week is berig dat vloedtoestande soos in 2011 vir langs die Benede-Oranjerivier- streek voorspel word.
Dit is volgens projeksies wat op inligting van die departement van water en sanitasie gegrond is oor die hoeveelheid water wat by die Bloemhof- en Vanderkloof- dam uitgelaat word.
Verlede week reeds het huise by Britten naby Christiana langs die Vaalrivier oorstroom, en ook in Bloemhof en Douglas het die stygende watervlak van die rivier van die inwoners genoodsaak om te ontruim. Die departement het ook gemeenskappe langs die riviere aangeraai om waterpompe, vee en toerusting weg van die rivier te verwyder.
Anena Burger berig dat die vloedwater in die Oranjerivier na verwagting Dinsdag (22/11) ’n beraamde hoogtepunt van 7,2 m in Upington sou bereik.
Teen Maandagoggend het Sanparke gesê die Augrabies-waterval het ’n vloei van 3 532 kubieke meter per sekonde (kumek) bereik, en sou na verwagting nog tot 4 500 kumek styg. Genevieve Maasdorp, Sanparke-woordvoerder, sê dit behoort vir die volgende twee weke so te bly, waarna dit geleidelik sal afneem.



