Die inwyding van die Sam Goldblatt-kompleks is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ’n projek deur samewerking beplan en uitgevoer kan word.
Dié kompleks ter waarde van sowat R11 miljoen sluit ’n moderne en ten volle toegeruste kombuis en eetsaal in, en is in September op die Kenilworth-landgoed in Kimberley ingewy. Kenilworth is onder meer die tuiste van Yonder, ’n vaardigheidsontwikkelingsentrum vir volwassenes wat met ’n intellektuele gestremdheid leef.
Van die algehele koste is R10 miljoen van die KUM afkomstig, terwyl die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging (NK Geestesgesondheid) nagenoeg R1 miljoen kon bydra.
“Hierdie geld is nie geleen nie. Daar is nie skuld op dié voltooide projek nie,” het Wiese beklemtoon.
“Die kompleks is ’n huldeblyk aan die waarde wat ons toevoeg tot almal wat ons pad kruis,” sê die 97-jarige Sam Goldblatt, na wie die kompleks genoem is.
Hy sê die Kenilworth-landgoed is ’n voorbeeld van wat met volgehoue toewyding bereik kan word, en hy voel geëerd dat die kompleks sy naam dra.
Die eerste bord kos wat vanuit die nuwe kombuis bedien is, is deur die hoofkok, Meriska Sagrys, aan Goldblatt voorgesit.
Ann Isaks, voorsitter van die uitvoerende komitee van NK Geestesgesondheid, sê die droom van só ’n kompleks is nou verwesenlik.
“Ons voel tuis en waardig,” sê sy.
Die menswaardigheid van volwassenes met gestremdhede was juis die oogmerk met die stigting van NK Geestesgesondheid in 1951.
Trudie van de Wall, ’n stigterslid, het die visie gehad om mense met gestremdhede te help ontwikkel en diensbaar te maak; en indien moontlik in staat om na hulself om te sien.
Die stigting van die Yonder-opleidingsentrum het gevolg, asook dié van die KUM.
Elke projek wat op Kenilworth aangepak word, is ten bate van die persoon wat met ’n gestremdheid leef. Verbetering en instandhouding van die terrein en geboue vind voortdurend plaas, en daar word voorsiening gemaak vir die behoeftes van die Yonder-opleidingsprogramme en dié van die Jannie Brink-skool.
By Yonder word 260 volwassenes met gestremdhede in 17 programme opgelei; 30 van hulle werk in die ope arbeidsmark en verdien ’n inkomste. Van de Wall se visie van dekades gelede word só uitgeleef.
Die kompleks met plek vir 400 gaste kan vir geleenthede uitverhuur word.





