Verwyder lense van twyfel, sê voormalige Mej. Wêreld aan vroue in Kimberley

Saam met Rolene Strauss is die organiseerders van die geleentheid en verteenwoordigers van Sentraal24, waarvan NoordkaapBulletin ’n publikasie is. Van links is Nerette Botha, Amelia van Rooyen, Marlize Theron, ds. Arina Zandberg, Jeannine van Zyl (hoofbestuurder van Sentraal24), Trulien de Bruyn en Natasha Ingram (spanleier van NoordkaapBulletin).

Foto: Helena Barnard

Van kleins af sit ’n mens vir jouself lense op waardeur jy na die wêreld kyk. Soms is daar veel meer as wat jy deur al jou lense sien, ander kere sien ’n mens dinge wat nie eens daar is nie.

Só het Rolene Strauss, voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld van 2014, op Saterdagoggend 5 Oktober aan nagenoeg 300 vroue tydens ’n oggendgeselligheid in Kimberley gesê.

Dié geleentheid waar Strauss die gasspreker was, is deur die NG kerk Bakenskop aangebied. Ds. Arina Zandberg van die gemeente het vroeër vertel dat dit algemeen is dat vroue voel hulle is net nie goed genoeg nie; dat hulle met selfvertroue sukkel.

Die geselligheid, wat vir die vierde jaar in dié formaat aangebied is, het ten doel om vroue besield en spesiaal te laat voel in ’n atmosfeer wat spesiaal vir hulle geskep is.

Sit lense van jongs af op

Strauss vertel dat sy as sesjarige oor haar erge krulhare gespot is, en só het sy haar eerste lense begin opsit – lense wat haar oortuig het ’n mens is net aanvaarbaar as jy ’n sekere voorkoms het.

As 16-jarige het sy ’n geleentheid gehad om modelwerk in Parys, Frankryk, te doen, en ’n vrou met ’n maatband het nog lense oor die persepsie van haarself geplaas toe sy vir Strauss vertel het dat haar mates sal moet verklein.

Boonop, vroeg reeds, toe sy besluit het om haar in die mediese rigting te bekwaam, het sy ’n terloopse opmerking van “dokters kan mos nie entrepreneurs wees nie”, gehoor.

As 19-jarige, met haar eerste deelname aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, was sy een van die vyf finaliste. Maar met die vraag-en-antwoordsessie aan die vyf finaliste op die verhoog, het Strauss oor haar woorde gestruikel en sy kon nie ’n antwoord geformuleer kry nie – in só ’n mate dat die gehoor haar geboe het. Sy het ’n uittreksel hiervan met die gehoor gedeel.

Hierdie belewenis het veroorsaak dat sy nog lense opgesit het.

“Hoe helder kan ons dan later deur al hierdie lense sien?,” het Strauss gevra.

Verwyder lense van twyfel

Sy het na die term “identity whiplash” verwys; die risiko daaraan verbonde om jou waarde en jou identiteit te heg aan dit wat jy daagliks doen of wat jou werk behels.

Boonop word vroue verwar deur soveel bewegings in die samelewing, soos onder meer dié van “You are perfect as you are” teenoor die kontras van “No pain, no gain”.

“Verander die betekenis van sommige dinge in jou lewe. Haal van die lense af want die lense bepaal ons werklikheid. Die wêreld is hoe jy daarna kyk; jy het beheer.”
Rolene Strauss

Strauss sê dit is belangrik om die lense van onder meer twyfel te herken en dit te verwyder.

Vra jouself: Wat wil ek graag doen? Wat is my droom? Wat hou my terug? Wat gaan gebeur as ek daardie een stappie nader aan my droom neem?

‘Jy het die potensiaal in jou’

Om te prioritiseer is hoe sy die verantwoordelikhede van al haar rolle hanteer. Behalwe ’n eggenote, is sy die ma van drie jong seuns, lewensafrigter, motiveringspreker, entrepreneur en skrywer. Sy is ook ’n gekwalifiseerde dokter met ’n meestersgraad in filosofie en bestuursafrigting.

Al dié verantwoordelikhede is soos om ’n verskeidenheid balle met akrobatiese vernuf in die lig te moet hou. Van die balle is van glas gemaak, ander van rubber.

Charné Cronjé van Kimberley, wie vanjaar ‘n Mev. Heelal Suid-Afrika-finalis is, saam met Rolene Strauss, voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld.

Die rubberballe kan maar val; dit sal hop en jy kan dit weer optel. As die glasballe val, is dit stukkend en jy kan dit nie regmaak nie.

Haar drie seuns, al drie onder die ouderdom van sewe jaar, is vir haar glasballe.

Juis hierom het Strauss die jongste toevoeging tot hul gesin saamgebring Kimberley toe omdat sy nog borsvoed.

Sy het ook die beeld gebruik van wanneer ’n tuinier beperkte water vir die tuin beskikbaar het: Vir watter plante moet jy water gee, en watter sal nog daarsonder kan klaarkom?

By die geselligheid is van links Philadelphia Babi (bemarkingsbestuurder Diamond Pavilion Mall), Natasha Ingram (spanleier NoordkaapBulletin) en Jeannine van Zyl (hoofbestuurder Sentraal24, waarvan NoordkaapBulletin deel is).

Intussen het Strauss van die lense waardeur sy van vroeg af gekyk het – dat dokters nie entrepreneurs kan wees nie – daadwerklik afgehaal: Sy het in Mei haar sonbrilreeks, RS Sunglasses, bekend gestel. RS Sunglasses is intussen as die amptelike sonbril-vennoot vir vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie aangewys.

“Jy het reeds die potensiaal in jou,” het Strauss beklemtoon, en dat tweede kanse bestaan.

  • NoordkaapBulletin was die gedruktemediaborg van die geleentheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article