Versoek dat Noord-Kaapse onderwysdepartement onder administrasie geplaas word

Foto ter illustrasie.

Foto: Unsplash

Die probleme van die Noord-Kaapse departement van onderwys blyk te vererger nadat die departement vandeesweek ’n dringende interdik teen beheerliggame en skole in Warrenton en Hartswater moes kry – waar die leerlinge opgehou skoolgaan het – om hulle te dwing om na normaal terug te keer.

Dit volg te midde van ’n geldkrisis waarin net ’n gedeelte van geld aan skole betaal is om leermateriaal te koop, skoolvoedingskemas en koshuisgeld te betaal en munisipale rekeninge by behoeftige skole te delg.

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysvakbond (Sadou) en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) is besig met ’n werk-volgens-die-boek-staking (“work-to-rule”) waarin onderwysers net sewe ure per dag skool hou en buitemuurse sportaktiwiteite aan die agterspeen suig.

Mededingende skolesport gaan weer voort

In ’n stadium het die Noord-Kaapse Skoleatletiekstruktuur besluit om alle provinsiale baan- en veldbyeenkomste vir 2025 te beëindig. Geen sulke byeenkomste sou geskied en geen spanne gekies word vir deelname aan die Suid-Afrikaanse Skole-atletiekkampioenskap nie. Die besluit is intussen omgekeer en mededingende skolesport gaan steeds voort.

Dit sloerstaking is op 27 Januarie uitgeroep is weens die departement se wanbetaling aan skole. Die departement het teen die einde van Januarie net 27% van sy begroting vir sukkelende skole se koshuisgeld, munisipale diensrekenings, voedingskemas, tydelike onderwysers en leer-en-onderrigmateriaal betaal.

Intussen het amptenare R100 miljoen met behulp van die Provinsiale Tesourie gevind om die krisis te probeer oplos.

‘Situasie het effens verbeter’

Jaco Deacon, hoofuitvoerende beampte van die nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het Dinsdag 11 Februarie ’n ledevergadering in die Noord-Kaap oor die krisis gehad.

“Ons is verlig dat die situasie intussen effe verbeter het. Skole het op Woensdag 12 Februarie nog ’n betaling van die departement ontvang. By navraag is bevestig dat skole nou 50% van die leer-en-onderrigmateriaal se geld ontvang het en 80% van koshuisgeld. Die voedingskema is op datum betaal. Verdere betalings word volgende week vir instandhouding en vervoer verwag.

“In Namakwaland het van die skole bevestig dat hul koshuise oop is en dat hulle begin funksioneer nadat hulle geld gekry het. Tog bly ons bekommerd. Die beskikbaarheid van geld bly onder druk.

“Ons doen ’n beroep op die minister om die provinsiale departement onder administrasie te plaas.”
Jaco Deacon

“Ek het formeel met die minister geskakel en hoop om eersdaags met haar te vergader om permanente oplossings vir die Noord-Kaap se probleme te kry. Die R100 miljoen wat amptenare gevind het, is welkom, maar dit gaan nie al die gate toestop nie.

“Die geld is ’n tydelike maatreël. Skole bly onder geweldige druk, veral in die Namakwaland-gebied wat onderwysposte betref. Al groei skole se getalle, het die skole onderwysposte verloor, wat die uitdagings vererger. Die minister het verseker gehelp dat daar bykomende geld kom, maar permanente oplossings skort,” sê Deacon.

Hofinterdik uitgereik

Intussen het die Noord-Kaapse departement van onderwys op Woensdag laatmiddag bevestig dat skole in Warrenton en Hartswater – in die Pokwane- en die Magareng-munisipale gebiede – normale bedrywighede hervat het.

“Alle skole is oop, en skoolhoofde en opvoeders het aangemeld vir diens,” sê Geoffrey van der Merwe, departementele woordvoerder.

Hy sê daar was egter ’n groot aantal leerlinge by tien skole wat nie opgedaag het nie. ’n Afskrif van die hofinterdik is na alle ouers, leerlinge en skoolbeheerliggaamslede gestuur, en ouers is versoek om te verseker dat die leerlinge vanaf Donderdag stiptelik skool bywoon.

Sou die hofinterdik verontagsaam word, kan die betrokkenes aangekla word van die minagting van die hof.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article