John Block in die landdroshof in Kimberley ten tyde van sy paroolaansoek.

Foto: Verskaf

John Block, die veroordeelde gewese Noord-Kaapse ANC-leier en LUR, se paroolaansoek wat voorheen afgekeur is, moet binne 21 dae heroorweeg word.

Block se paroolaansoek ingevolge presidensiële kwytskelding is Vrydag 15 September in die hooggeregshof in Kimberley goedgekeur terwyl die departement van korrektiewe dienste ook sy regskoste moet betaal.

John Block in die landdroshof in Kimberley ten tyde van sy paroolaansoek.

Block dien ’n vonnis van 15 jaar vir korrupsie uit. Hy is skuldig bevind dat hy sy invloed gebruik het om duur huurkontrakte vir staatsdepartement aan die Trifecta-maatskappy toe te ken en gunste in ruil ontvang het.

Besluite oor paroolaansoek in hersiening geneem
Regter Albert Nxumalo het in sy uitspraak die besluit van 29 September 2020 van die Upington-korrektiewe sentrum en die paroolraad, asook die nasionale kommissaris se besluit van 22 Mei 2023, om Block se paroolaansoeke ingevolge die president se presidensiële kwytskelding af te keur, tersyde gestel. Die besluite moet op hersiening geneem en Block se weldade ook oorweeg word.

Die regter het bevind hoewel die besluite onregverdig was deurdat die betrokke wetlike beginsels verkeerd toegepas is, was die departement nie partydig of onbevoeg nie.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi SC het vroeër namens Block in sy paroolaansoek aangevoer dat hy reeds in November 2018 by die gevangenis aangemeld nadat sy appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis in die appèlhof gedeeltelik misluk het. In Desember 2019, ’n jaar en een maand nadat hy sy vonnis begin uitdien het, het die president presidensiële kwytskelding aan sekere gevangenes gegee, en weer in April 2020. Block het albei kere kwalifiseer.

Intussen het Block weldade by die tronk verrig deur die owerhede in kennis te stel dat die Xhosa-bewoording by die ingangsbord verkeerd en gevaarlik is omdat dit sê enigeen kan inloop. Voorts het hy sy kontakte by die premier se kantoor gevra om sokkerklere en toerusting aan die gevangenes te skenk. Hy het ook vier jaar lank ander gevangenes akademies onderrig.

Hy het nie eens voor die paroolraad verskyn nie, en is ondanks navrae nie in amptelik kennis gestel van die weiering van sy paroolaansoek nie. Eers nadat hy met regstappe teen die departement begin het, het hy ’n kennisgewing ontvang. Hy het nie administratiewe geregtigheid ontvang nie.

Hy het reeds ’n minimum tydperk uitgedien om in aanmerking vir parool te kom. Die departement se wiskundige berekening van wanneer Block danksy die twee presidensiële kwytskeldings vrygelaat kan word, is verkeerd.

Adv. Lesiba Maponya, namens die departement, het volgehou dat die berekening van wanneer Block in aanmerking kom om vrygelaat te word vanaf 27 April 2020 gedoen word. Dit beteken Block kan eers in Mei 2025 op parool vrygelaat word. Die onafhanklike ondersoeker in die paroolaansoek was nie bevooroordeeld nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article