Die vermeende bedrieër Phillip “Klippies” Krüger/Dieckmann (31) van Kuruman het vandeesweek weer in die hof op verskeie aanklagte van bedrog verskyn.
Lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê Dieckmann het Maandag (14/08) sy borgtogaansoek in die hof in Postmasburg laat vaar.
Dieckmann sou op 10 Augustus ’n borgtogaansoek gebring het, maar hy het in Pretoria in ’n siviele geding verskyn waar die eiser meer as R100 000 en regskoste van hom eis.
Verskeie klaers het klagte teen hom by verskillende polisiekantore in die Noord-Kaap, Vrystaat en Gauteng ingedien nadat hy na bewering bankdeposito’s vir sonkragstelsels aanvaar het, maar nooit die produkte gekoop of dit by die klaers se huise aangebring het nie.
Dieckmann se inhegtenisname kom nadat ’n aantal mense in minstens drie provinsies klagte by die polisie ingedien het en siviele eise teen hom aanhangig gemaak het oor sonkragstelsels wat hy aan hulle verkoop het nadat hulle op sy advertensies op sosialemediaplatforms reageer het.
Die deposito’s wat aan hom betaal is, beloop meer as R1 miljoen, wat glo ook ’n onbetaalde lening insluit.
Rooies Strauss, ’n pastoor wat ook ’n krokodilboer is, en sy sendelinge het die polisie op 15 Julie bygestaan om Dieckmann op die plaas buite Kuruman waar hy was, aan te keer.
Dieckmann se sonkragondernemings se name is e-Kalahari en Sica, en hy het die telefoonnommers 072-985-4727 en 072-956-8876 gebruik.
Sica adverteer dat sy dienste in Nelspruit, Upington, Sandton, Kaapstad, Lichtenburg, Durban, Pietermaritzburg, Polokwane, Kimberley en Bloemfontein beskikbaar is.
Die polisie het vroeër bevestig hulle ondersoek verskeie sake teen hom nadat klagtes by polisiekantore in Kathu, Lime Acres, Postmasburg, Niekerkshoop, Windsorton, Trompsburg, Bloemfontein en Pretoria ingedien is, terwyl private speurder Mike Bolhuis ook 15 sake teen die man ondersoek.
Dieckmann se volgende hofverskyning is op 7 September. Die ondersoek duur voort.
- Enigeen met inligting oor die saak kan speursersant Mzimkhuulu Dube op 071-798-3164 bel.





