Die Nigeriese beskuldigde in die saak waarin ’n Noord-Kaapse vrou met ’n aanlynafspraak-app uit miljoene rande bedrieg is, gaan weer om borgtog aansoek doen. Hy staan ook tereg op soortgelyke aanklagte in die Wes-Kaap.
Dit kom nadat Pius Emokpe (49) se vier medebeskuldigdes, almal Suid-Afrikaners, Donderdag (02/02) borgtog in die landdroshof in Kimberley gekry het.
Adv. Lentswe Setoutou, aanklaer, het nie die borgtogaansoeke teengestaan nie.
Emokpe is sedert Mei 2022 in aanhouding nadat hy in Kaapstad deur die Valke inhegtenis geneem is. Hy het sy vorige borgtogaansoek laat vaar, maar gaan op Donderdag 9 Februarie weer aansoek doen, het adv. Jesse Clarke, sy regsverteenwoordiger aan landdros J. du Toit gesê.
Sy medebeskuldigdes is op 25 Januarie in Kaapstad in hegtenis geneem. Lulama Dilimeni (33) en Shafwaan Fakier (47) is borgtog van onderskeidelik R25 000 en R100 000, en Nomcebo Sibise (40) en Juany Michaels (24) borgtog van R5 000 elk vrygelaat.
Fiona Bok is Dilimeni, Sibise en Michaels se regsverteenwoordiger, terwyl Clarke ook vir Fakier verteenwoordig.
Sibise is werkloos. Terwyl sy haar drie maande oue baba in die hof gesus het, het die aanklaer aangevoer dat sy op ’n tydstip R200 000 in haar bankrekening ontvang het. Fakier werk by ’n eiendomsmaatskappy as ’n opsigter, Dilimeni is ’n skoonmaker en Michaels ’n kelnerin by ’n wynlandgoed.
Die vier beskuldigdes wat op borgtog vrygelaat is, gaan almal skuld ontken. Hulle beweer hulle ken nie die klaer en getuies nie, en sal daarom nie met hulle inmeng nie. Hulle het ingestem om elke Maandag en Vrydag by hul naaste polisiekantoor aan te meld en nie die Wes-Kaap te verlaat sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel nie.
Hulle is in hegtenis geneem nadat hul bankrekeninge na bewering gebruik is om geld te was. Emokpe het glo met sy medebeskuldigdes saamgewerk om die slagoffers, wat tot R4 miljoen verloor het, te bedrieg.





