Hoe gemaak as jou dorp uitmekaarval?
Jy rol moue op saam met jou gemeenskap en takel die probleme self – van die vervalle sypaadjies en middelmanne tot die slaggate in die paaie én verslonste geboue.
Rapport Regstreeks is in lewende lywe terug by die Vrystaat Kunstefees.
Eerste op die program is die gesprek “Dienslewering: Slaggate en suksesverhale” op Vrydag 7 Oktober om 09:00.
Gemeenskappe oor die land heen het die afgelope paar jaar begin hande vat oor sosio-ekonomiese en politieke grense heen om verval in hul dorpe reg te ruk.
Inge Kühne, Rapport se redakteur, gesels met Barend la Grange, bedryfshoof van die Privilege-stigting, past. John Mathuhle, voorsitter van die Senekal Matwabeng-gemeenskapsforum en Charl Marais, ’n sakeman en lid van Ignite and Revive Kroonstad.
Kroonstad se herlewingsprogramme is so suksesvol dat dit vanjaar as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys is.
“Ons moet mense oraloor se koppe swaai om hul gemeenskappe te mobiliseer.
“Ons moet eenvoudig sélf van ons land ’n beter plek maak,” sê Mathuhle.
Toegang tot die uurlange gesprekke is gratis en dit word in die Netwerk24-feeskafee gehou.
Theo Vorster bied hier ook “Sake & Sauvignon”, Netwerk24 se gespreksreeks oor geldsake en beleggings, aan.
Dié halfuurlange gesprekke vind van Woensdag (05/10) tot Vrydag (07/10) in die Feeskafee plaas, en begin elkeen om 17:00.
- Die Vrystaat Kunstefees word van Sondag (02/10) tot Saterdag 8 Oktober in Bloemfontein op die UV-kampus gehou.
- Vir die volledige feesprogram gaan na vrystaatkunstefees.co.za.
Rapport





