Die verhoor in die hooggeregshof in Kimberley waarin Douglas Mthukwane (42), eertydse departementele woordvoerder en vryskutjoernalis, skuld op die vier aanklagte van verkragting teen hom ontken, is verlede week na April volgende jaar uitgestel.
Dit volg nadat hy vier dae in die getuiebank was en onder meer aangevoer het dat hy “kwaadwillig vervolg” word. Sy kruisondervraging is steeds nie afgehandel nie.
Hy voer aan al die voorvalle van seksuele gemeenskap was met die klaagsters se toestemming.
Mthukwane word verdink dat hy ’n 14-jarige meisie van Greenpoint, wat hy soms skool toe gevat het, op 30 Mei 2016 in sy woonstel in Beaconsfield verkrag het.
Hy het haar na bewering met iets wat soos ’n vuurwapen lyk, gedreig.
Ná die beweerde verkragting het hy haar skool toe gebring, waar sy ’n onderwyser ingelig het.
ln die ander voorval het hy na bewering op 20 Augustus 2017 ’n vrou langs die pad in Greenpoint voorgekeer en aanwysings gevra.
Sy het ingestem om saam te ry.
Hy het haar na ’n veld geneem en met iets wat soos ’n vuurwapen lyk gedreig en na bewering verkrag.
In nog ’n beweerde voorval van verkragting het hy op 15 Mei 2019 ’n vriendin gevra om saam met hom na sy woonstel te gaan om sy skootrekenaar te kry.
In die woonstel het hy haar glo twee keer verkrag en gedreig om haar by die venster uit te gooi.
In sy hoofgetuienis wat deur Renier Pieterse, sy regsverteenwoordiger gelei is, voer Mthukwane aan hy was “soos familie” vir die 14-jarige se gesin wat hy gereeld bygestaan het.
Op die betrokke dag was sy glo nie lus vir skool nie. Hulle is na sy woonstel, waar hulle glo oor verhoudings gepraat en sy na bewering vertel het sy is nie ’n meer ’n maagd nie.
Hy het daarna gaan bad, waarna sy in die badkamer gekom het.
Hulle het seks op die bed gehad, waarna hy vir haar kos by ’n supermark gekoop en skool toe gevat het.
In die tweede voorval het hy by die vrou langs die pad stilgehou.
Hulle het geskerts en ooreengekom om in die veld in sy kar seks te hê. Hy het vir haar geld – R30 of R40 – en ’n bottel kookolie wat in die bagasiebak was, gegee.
Hy ken die klaagster in die derde voorval reeds van hul jong dae.
Sy is glo in opleiding om ’n tradisionele geneser te wees.
Mthukwane was destyds uit op borgtog op die ander aanklagte teen hom. Hy het die klaagster en die geneser gaan spreek.
Op die dag van die voorval het hulle by haar ouerhuis oor verhoudings gesels, en sy het haar lyf teen hom aangedruk.
Hulle is per huurmotor na sy woonstel waar hulle gemeenskap gehad het.
Hy het op ’n vraag van adv. Adele van Heerden, aanklaer, ontken dat sy by hom gepleit het om haar nie te verkrag omdat sy menstrueer.
Daar was volgens hom geen sprake van vyandigheid nie en hy het haar selfs terug na haar ouerhuis vergesel.
Waarnemende regter Sharon Erasmus lei die verhoor.





