“Onskuldig.” Dit is hoe die drie beskuldigdes in die moord op Judy Redelinghuys (71), ’n sakevrou van Upington, Maandag (16/05) in die rondgaande hooggeregshof gepleit het.
Die moordverhoor teen Tumelo Sotho (39), Martatjie Engelbrecht (31) en Nkosinati Ntombela (35) het Maandag begin.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê al drie staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en ook dwarsboming van die gereg.
Redelinghuys is op 30 Junie 2020 vermoor. Haar lyk is in haar swembad gevind, met haar hande agter die rug vasgebind. Sy is na bewering ook verwurg.
Sy het as “tannie Woollies” bekend gestaan omdat sy van 1993 tot 2012 die eienaar van die Woolworths-tak in die dorp was. Ten tyde van haar dood het sy talle sakepersele op die dorp besit, wat sy uitverhuur het.
Adv. Jacques Rosenberg is die staatsaanklaer en regter Sharon Erasmus van Kimberley is die voorsittende beampte.
- ’n Vrou (40) wat Sondagoggend (15/05) in hegtenis geneem is nadat sy na bewering saamgesweer het om haar man te laat vermoor, het Maandag vlugtig in die landdroshof in Kimberley verskyn.
Miriam Tau, ’n burger van Botswana wat saam met haar man in Kimberley woon, het op ’n aanklag van sameswering om moord te pleeg in die hof verskyn, sê Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG). Die saak is tot 24 Mei vir ’n moontlike borgtogaansoek in die streekhof in Kimberley uitgestel. Tau bly in aanhouding.
Tau is deur ’n taakspan van die polisie betrap waar sy met vermeende huurmoordenaars vergader het, sê kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder.
Die taakspan het haar ’n week lank dopgehou en inligting ingesamel voordat hulle Sondag toegeslaan het.
Sy wou na bewering hê huurmoordenaars moes haar man ontvoer en vermoor – en het glo ’n groot bedrag geld aangebied en sou dit betaal nadat die moord gepleeg is.




