Die polisie het voor en tydens Paasnaweek met Operasie Vhuthu Hawe rakende verskeie oortredings op verdagtes toegeslaan. Die verdagtes sou vandeesweek in hul onderskeie dorpe in die hof verskyn.

  • Vier mans is Donderdag (14/04) in Kimberley vir die handel in dwelmsin hegtenis geneem. Die mans is van Galeshewe, Snake Park en Phomolong Shanties, en onder meer tik, Mandrax en dagga is in hul besit gevind. Die dwelms het ’n waarde van meer as R4 000.
  • Twee verdagtes is Donderdag in Skerpdraai, Olifantshoek, vir die handel in dwelms in hegtenis geneem. Sakke dagga, van onderskeidelik 6 kg en 8 kg, is in twee afsonderlike voorvalle in hul besit gevind.
  • ’n Verdagte, met 20 vermoedelik gesteelde boerbokke op sy bakkie, is Vrydag by ’n padblokkade tussen Campbell en  Schmidtsdrift in hegtenis geneem. Die verdagte kon nie eienaarskap van die bokke bewys of ’n bewys van aankoop toon nie.
  • Nadat ’n groep bankrowers 15 jaar gelede die FNB in Upington van meer as R1 miljoen beroof het deur ’n bom op ’n teller se toonbank te plaas, is ’n 44-jarige man vir die daad gevonnis. Martin Johannes is Donderdag (14/04) in die landdroshof in Upington vir die gewapende roof gevonnis, sê Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder, in ’n verklaring. Johannes is in April 2007 vir die bankroof op 30 Maart 2007 in hegtenis geneem. Hy het die bom op die toonbank neergesit en geld geëis. Johannes is op borgtog vrygelaat en het talle kere in die hof verskyn. In 2016 is hy vir ’n nie-verwante aanklag in hegtenis geneem en was sedertdien in aanhouding. Hy is tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis. Die ander saak is teruggetrek.

– Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article