Lede van die CC Riders-motorfietsklub, die DA en ander lede van die gemeenskap het Maandag 23 September die hofbanke in die landdroshof in Kimberley volgesit waar John Ross Henderson (38) vir die eerste keer verskyn het op aanklagte van moord op Jayson Afrique op 31 Julie vanjaar voor sy huis in New Park, Kimberley, asook poging tot moord op Afrique se vrou, Micayla.
Die beskuldigde is die seun van die aktivis Ross Henderson, vroeër jare by die Civics-organisasie betrokke, en wie ook ’n provinsiale DA-leier was.
Terwyl Afrique se weduwee deur familielede ondersteun is en voor in die hofsaal gesit het, het Henderson sr. homself in die agtergrond gehou.
Afrique se moord het opslae in Kimberley verwek. Gemeenskaplede en naasbestaandes het vertel dat Afrique (28) ’n gewilde mens en goeie man vir sy vrou was. Die bewering is dat hy etlike kere raakgeskiet is nadat hy homself oor sy vrou (27) in hul bakkie gegooi het om haar te beskerm. Hulle was op pad om deur die veiligheidshek na hul meenthuis te ry toe hulle voorgelê en verskeie skote op hulle geskiet is.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die verdagte is op Vrydag 20 September omstreeks 20:30 by ’n vulstasie in Kimberley in hegtenis geneem. Die provinsiale georganiseerde misdaadondersoekeenheid het die inhegtenisname met die hulp van die Kimberley-blitspatrollie uitgevoer.
Henderson, ’n oudpolisielid, het versoek dat hy eerder in die polisieselle aangehou word as saam met ander verhoorafwagtendes in die gevangenis. Hy het ook versoek dat ’n ander landdros sy borgtogaansoek aanhoor.
Hy was geklee in ’n swart baadjie en swart geruite broek, en het ’n lang kennebaard.
Beweringe het vroeër die ronde gedoen dat nege skote op die oorledene gevuur is, en dat sy vrou die eintlike teiken was.
Afrique, wie ’n bekende sakeman in Kimberley was, het verskeie ondernemings bestuur, waaronder ’n skrootmetaalonderneming, pandjieswinkel en ’n kleinskaalse vervoeronderneming. Hy was ook ’n ywerige motorfietsryer en ’n aktiewe lid van die CC Riders.
Misdaad, onafgehandelde sake té veel
Mike Muller, voorsitter van CC Riders, sê Afrique se familie is reeds jare by die klub betrokke.
“Jayson het integriteit gehad, en dit was lekker om met hom saam te werk. Hy was ’n spanspeler, altyd vriendelik en hulpvaardig. Hy was ’n aangename mens in elke opsig.
“Ons is in die hof om te toon dat ons misdaad nie meer kan verduur nie. Die sosiale verval in ons gemeenskap is skokkend. Almal in elke gemeenskap ly onder misdaad, en ons wys met ons teenwoordigheid dat dit nie meer geduld sal word nie.”
Lisa-Maré Schickerling, DA-LP wat op die portefeulje-komitee vir die polisie dien, is bekommerd dat die dossier nie in die hof was nie.
“Ons sal uitvind wat met die ondersoek gebeur. Dit is goed dat die borgtogaansoek teengestaan word, want Henderson staar ook ander soortgelyke aanklagte in onverwante sake in die gesig. Dié sake is nog nie afgehandel nie, en ons wil weet hoekom.”
Sy sê sowat 80 mense word daagliks vermoor en meer as 5 miljoen dossiere is onverrigte sake gesluit omdat die polisie nie deeglike ondersoekwerk gedoen het nie.
“Ons wil ook toesien dat mense wat soortgelyke sake teen hulle het, nie borgtog moet kry nie. Hulle moet in aanhouding bly totdat die verhore afgehandel is.”
- Henderson se borgtogaansoek is tot Woensdag 25 September uitgestel.





