Die stampvol landdroshof in Kimberley het op Maandag 30 September gehoor hoe die staat aanvoer dat John-Ross Henderson, aangekla van die moord op Jayson Afrique op 31 Julie in New Park, sy selfoon op die moordtoneel laat val het, maar later “voorgegee het dit is gesteel”.
Henderson (38) se regspan het namens hom aangevoer die selfoon is op die toneel “geplant” en dat polisielede – sy eertydse kollegas – “verskuilde agendas” het.
Die staat meen dat Afrique se vrou, Micayla, moontlik die teiken was in die aanval omstreeks 20:30 voor die hek van hul woonkompleks. Die aanvaller het op hulle gewag en tien skote is op die passasierskant van hul bakkie gevuur. Jayson het bo-oor haar gaan lê om haar te beskerm. Hy is vier keer raakgeskiet en het verskeie beserings en skietwonde aan sy kop, bors en arms gehad.
‘Buitengewone omstandighede’ nodig om borgtog te regverdig
Landdros G. Plaatje het Maandag beslis dat die borgtogaansoek onder skedule 6 van die Strafproseswet val, wat Henderson noop om buitengewone omstandighede te bewys wat sy borgtog regverdig. In ’n verklaring sê Henderson hy het geen vorige veroordelings of hangende hofsake teen hom nie. Hy is nie getroud nie, maar het vier kinders. Hy moet vir hulle sorg en sy sekuriteitsbesigheid bestuur. Indien hy op borgtog vrygelaat word, sal hy nie met staatsgetuies inmeng nie.
Sers. Bernard Sebongilwe, ondersoekbeampte, het getuig die skieter het die egpaar die aand eers agtervolg voor die skietery by die hek. Micayla, wat nie die skieter kan eien nie, het kort ná die aanval haar pa telefonies ontbied.
Hy was eerste op die toneel, en daarna die polisie en die mediese dienste. Die polisie het die selfoon, in Henderson se naam registreer en met sy vingerafdruk daarop, op die toneel gevind.
Die selfoon se omhulsel moet ontleed word vir die teenwoordigheid vir raak-DNS, asook die projektiele wat op die toneel gevind is.
Klag ingedien dat selfoon gesteel is
Henderson het op 1 Augustus ’n klag ingedien dat sy selfoon by ’n vulstasie gesteel is. Sebongilwe het die beeldmateriaal van die kringtelevisie van die vulstasie verkry. Daarin is gesien hoe Henderson kort ná 22:00 op die aand van die voorval met sy bakkie ’n U-draai vanaf Longstraat se rigting in Schmidtsdriftweg maak.
Hy laai ’n man af, waarna hy weer draai en by die vulstasie inry. ’n Man haal dan ’n kospakkie uit sy bakkie. Henderson loop na die winkel, maar koop niks nie.
Sebongilwe voer aan Henderson weet hy het sy selfoon op die misdaadtoneel verloor, en probeer ’n scenario skep waarin die foon by die vulstasie “wegraak”. Henderson het glo ná die skietery “weggekruip”.
Die ondersoekbeampte meen daar is nog ’n verdagte, maar die ondersoek is nog onvoltooi. Hy staan borgtog teen omdat die moordwapen nog soek is, Micayla vir haar lewe vrees en die gemeenskap hul stem dik gemaak het.
Henderson se lewe is moontlik ook in gevaar.
Henderson is in 2017, terwyl hy nog vir die polisie gewerk het, aangekla vir ’n sakeroof waarin vuurwapens gebruik is, maar die landdros is te midde van dié verhoor oorlede. Die saak is nie van die rol geskrap nie, en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit eersdaags of dit van nuuts af moet begin.
In kruisondervraging het adv. Celeste Nameka namens Henderson dit aan Sebongilwe gestel dat iemand die selfoon op die toneel kon geplant het.
Die Afrique-egpaar se voertuig is intussen gedeeltelik herstel, en daarom kan die verdediging nie hul eie deskundiges kry om dit te ontleed nie. Sebongilwe dring aan die bakkie is deeglik deur die ballistiese eenheid ondersoek.
Ondersoekbeampte ontken botsende belange
Hy ontken botsende belange omdat hy ook die gewapende roofsaak teen Henderson ondersoek het. Polisielede het volgens hom nie destyds ’n persoon van belang gedwing om sekere aantygings teen Henderson in verklarings te maak nie.
Nameka voer aan daar is net een getuie, wat Henderson nie as die skieter kan identifiseer nie. Henderson en sy familie was ná die voorval deurentyd bewus dat hy ondersoek word.
Die landdros het Nameka meer as een keer daarop gewys dat die geloofwaardigheid van die bewysketting van bewysstukke nie in ’n borgtogaansoek relevant is nie, net in die verhoor.
Die borgtogaansoek het op Dinsdag 1 Oktober voortgeduur.




