’n Gesin van die Daniëlskuil-gebied het hul huis en van hul troeteldiere verloor nadat ’n brand op hul plaas opgevlam het terwyl hulle vriende op ’n ander plaas bygestaan het.
Rian en Nina Burger van die plaas Kramersfontein, sowat 3 km buite Daniëlskuil, het Saterdagoggend 23 September hul vriende Jan en Susan Weideman gaan bystaan nadat die Weidemans in die vroeë oggendure op hul plaas deur die vlamme vasgekeer is, berig Marita Herselman.
Veldbrande het van Woensdagmiddag tot Saterdagnag derduisende hektaar weiding en veld in dié omgewing verwoes, vee geëis en huise in puin gelê.
Daar is sprake van minstens vyf of ses huise wat in die omgewing afgebrand of beskadig is.
Ná ’n grootse poging deur verskeie betrokkenes om die brand in bedwang te bring, is die laaste vlamme glo uiteindelik Saterdagnag deur die reën geblus.
Eric Stoch, voorsitter van Noordwes se sambreelbrandbeskermingsvereniging wat dié van die Noord-Kaap bygestaan het, sê volgens satelliet-inligting het sowat 45 229 ha in die Daniëlskuil-gebied gebrand en sowat 13 765 ha weens ’n ander brand in die Ulco-gebied.
Die aantal veeverliese en presies hoeveel huise afgebrand of beskadig is, was teen druktyd nog nie vasgestel nie.
Die brand op Kramersfontein was teen Vrydag 23:00 geblus, waarna die Burgers die Weideman-gesin Saterdagoggend gaan bystaan het.
Hulle het laatoggend ’n oproep ontvang dat daar weer rook op Kramersfontein trek. Die brand het opgevlam weens die wind wat gedraai het, en ongeag verskeie pogings om die brand van die huis weg te keer het dit deur die huis getrek. ’n Hond, vier katte en ’n hanskalf het in die brand omgekom.
Stoch het Sondagaand gesê geen mense is in die brande dood nie, en niemand is ernstig beseer nie. Groot veeverliese word egter verwag.
Hy het aan Marietjie Gericke gesê dat die vuur van Daniëlskuil af tot by die Lime Acres-myn versprei het, met verdere brande in die Ulco-gebied. Hy het gesê selfoonseine was ’n probleem en telkens nie beskikbaar nie, onder meer omdat Eskom-pale afgebrand het en daar nie elektrisiteit was nie, en ook weens beurtkrag.
Stoch het vertel dat dit ’n groot uitdaging was om die brand wat om Daniëlskuil gewoed het, van die dorp en die huise weg te keer.
Talle paaie in die omgewing was tydens die brande vir verkeer gesluit weens digte rook wat die sig erg belemmer het.
Die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit het by die provinsiale regering vir rampbestuur aansoek gedoen vir geld om Werk met Vuur (WoF)-spanne te ontplooi. ’n WoF-helikopter en vastevlerk-verkenningsvliegtuig is ook gebruik. Vier WoF-spanne van die Noordwes en die Vrystaat het gehelp, sowel as vier spanne van die Lohatla-weermagbasis.
Distriks- en plaaslike munisipaliteite, asook verskeie departemente, soos dié van openbare werke, het hulp na die brande ontplooi.
Die veldbrandseisoen duur gewoonlik van laat Julie tot vroeg Oktober in die meeste streke van die land.




