Besoekers geniet die onlangse Interskou op die plaas Vrede in die Philipstown-distrik.

Foto: Verskaf

’n Merinoboer in die Philipstown-distrik het op 24 Junie die negatiewe atmosfeer in die land besweer met die sesde Interskou-byeenkoms op sy plaas waarin hulle ander Jongooi-klubs genooi het om saam te leer en mee te ding.

Sowat 440 boere en hul vroue het die uitstalling op die plaas Vrede bygewoon.

Besoekers geniet die onlangse Interskou op die plaas Vrede in die Philipstown-distrik.

Gewoonlik hou Jongooiklubs eie byeenkomste waarin lede met mekaar meeding. Diederick Vermeulen, voorsitter van die Philipstown jong-ooiklub sê hulle het ses jaar gelede besluit om ander klubs te nooi en saam oor merino-boerdery te leer en mee te ding.

Jongooie se eienskappe soos onder meer groei, bouvorm en wolgehalte word beoordeel en boerderymetodes bespreek. Tussendeur word ramme bespreek en eienskappe soos bouvorm vergelyk en uitgestal.

Klublede van Middelburg, Noupoort, Junior Modern Merino’s, Modern Merino’s, Kraankuil, De Aar, Philipstown, Colesberg en die Suid-Vrystaat Jongooiklubs het teen mekaar vir die eerste plek meegeding.

Die Philipstown Jongooiklub is die oudste Jongooiklub in die land.

Johan Botes en Hardie van den Heever van House of Fibre en Hannes Olivier van OVK het die beoordeling gedoen. Die ses beste ooitjies van elke klub is op bouvorm en die gehalte van wol beoordeel. Die wenner was Junior Modern Merino’s.

Philipstown Jongooiklub was tweede en Modern Merino’s derde. Carl Battenhaussen van Philipstown Jongooiklub se een ooi was die beste ooitjie van die dag.

“Ons nooi kenners om ons toe te spreek en gewilde sangers om op te tree.

Vanjaar was Bok van Blerk en Ryk Kleynhans hier, en volgende jaar kom Appel. Prof. Theo Venter van die Universiteit van Johannesburg het gepraat oor die stand van die ekonomie en die vooruitsigte asook wat verwag kan word in die volgende nasionale verkiesing.

“Isak Staats van BKB was die gasspreker met sy prettige praatjie ‘Hoe sien jy jou gat?’ Boere het gehoor wat om te doen om goed te vaar. Om volhoubaar te boer verg baie kennis, insig en jy besef jy moet aanpassings maak by die veranderde vraag van die verbruiker.”

Vroue wat die dag bygewoon het, het geluister na praatjies oor skoonheid, en demonstrasies bygewoon oor hoe om wildsvleis gaar te maak en laslapwerk te doen.

Teen sononder is vuurkonkas aangesteek en is daar lekker saam met die kunstenaars gekuier.

  • Die volgende Interskou op dieselfde plaas is op 22 Junie volgende jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article