’n Veearts van Postmasburg, dr. Boeta van der Merwe (65), wat die Postmasburg-dierekliniek bedryf, is op Maandag 14 Oktober in die streekhof in die dorp skuldig bevind en gevonnis op vier aanklagte van seksuele aanranding van ’n tienerseun.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê Van der Merwe is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is. Die hof het beveel dat hy onmiddellik R100 000 aan die familie betaal en oor ses maande ’n bykomende R50 000.

Die slagoffer was 14 jaar oud toe die misdade begin het. Dit het oor ’n tydperk van drie jaar plaasgevind. Teen die tyd dat Van der Merwe gevonnis is, was die slagoffer 18 jaar oud, sê Senokoatsane.

Die seun se ouers het R100 000 geëis as vergoeding vir hul seun se maandelikse mediese uitgawes weens die traumatiese impak van die aanranding. Hulle het ook op onmiddellike tronkstraf aangedring.

Die slagoffer se ma, die enigste getuie, het haar getuienis gestaaf met mediese verslae. Sy het getuig haar seun het erge trauma, is depressief, het liggaamsbeeldprobleme en toon soms selfmoordneigings. Hy sukkel ook akademies weens die impak van die gebeure.

Senokoatsane sê Van der Merwe het in sy getuienis erken hy het ’n probleem en dat hy berading ondergaan. Hy het berou teenoor die slagoffer uitgespreek en is bereid om die gesin te vergoed en by te dra tot die slagoffer se mediese uitgawes, wat sowat R4 000 per maand beloop.

Ter versagting het die verdediging aangevoer dat Van der Merwe sedert 1983 as veearts praktiseer, in eie diens is, getroud is en drie volwasse kinders het, sonder vorige veroordelings.

“Die hof het ’n verantwoordelik­heid gehad om te verseker dat geregtigheid geskied en by te dra tot die slagoffer en sy gesin se pad na genesing en dat misdade teen kinders as ’n prioriteit beveg word en ernstig deur die howe opgeneem word,” sê Senokoatsane.

Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article