‘n Totaal van 1 237 junior toutrekkers het aan die
Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem wat
op 15 en 16 Maart in Kimberley aangebied is.
Verskeie
Noord-Kaapse spanne was deel van die 278 laer- en hoërskoolspanne van 47 skole
of junior klubs wat by die Kimberley Pirates-toutrekklub en op ’n deel van die
terrein van die Hoërskool Noord-Kaap meegeding het.
Noord-Kaapse
spanne van die Postmasburg- en De Aar-toutrekklub, asook die Gemsbokkies van
Postmasburg, het verskeie medaljes ingepalm. Gemsbokkies, ’n jong klub met 20
trekkers, het vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem.
Werner Kleynhans
van Noord-Kaap Toutrek, sê dat dié afgelope kampioenskapsbyeenkoms as een van
die bestes in ’n lang tyd beskryf word. Die Pirates-toutrekklub, in samewerking
met Noord-Kaap Toutrek en SA Junior Toutrek, het dit aangebied.
Volgende jaar
vind die byeenkoms in Mosselbaai plaas, wat ’n voorloper en goeie toetslopie
sal wees vir die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms wat in 2026 by Hartenbos
aangebied sal word.





