’n Oud-leerling van Upington, Regan Izaks (20), is in die 30-tal van die Junior Bokke ingesluit en gaan aan die o.20-Wêreldbekertoernooi, wat op 24 Junie begin, deelneem. Dit duur van 24 Junie tot 14 Julie.
Izaks, ’n veelsydige speler, is in die span as losskakel ingesluit, en sal ook as heelagter aangewend word.
“Ek voel baie geëerd om vir die Junior Bokke te kan speel en is vasberade om eer aan daai Groen-en-Goud-trui te bring. Alle dank en eer aan God wat my in staat gestel het om hierdie pad van sukses te bereik”, sê Izaks.
Izaks was ’n leerling aan die Laerskool Op die Voorpos in Upington, en het sy hoërskoolloopbaan by Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein voltooi. Hy was van 2017 tot 2021 in Grey-kollege-rugbyspanne.
Nadat hy matrikuleer het, het die Blou Bulle hom opgeraap.
“Dié knaap maak my baie opgewonde en ons verwag sommer groot dinge van hom in die toekoms. Hy moet net nederig wees,” sê sy oupa, Wesley George.
Die 30 jong Bokke het Donderdag (08/06) hul gesogte Groen-en-Goud-baadjies en -pette ontvang.
Die Junior Bokke se veldtog begin op 24 Junie teen Georgië in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Op 29 Junie pak hulle Italië se Azzurri-span by die Paarl Gimnasium.
Die tuisspan se laaste wedstryd teen die Argentynse Pumas vind op 4 Julie in die Athlone-stadion in Kaapstad plaas. Daarna volg die uitklopwedstryde.




