Jeremy Claassen en sy vrou, Myra.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

’n Vakadviseur verbonde aan die Noord-Kaapse departement van onderwys, Jeremy Claassen, het ’n nasionale eerbewys as die beste Woorde open Wêrelde (WOW)-onderwyser van die jaar ontvang.

Hy het dié gesogte eerbewys op 10 November tydens die Toyota Universiteit van Stellenbosch Woordfees in die Eikestad ontvang.

Claassen, werksaam in die Z.F. Mgcawu-distrik in Upington, het die eerbewys vir sy betrokkenheid by die WOW-spelkompetisies ontvang, waarby hy reeds tien jaar betrokke is.

Voor sy amp as vakadviseur was hy vir dekades in die onderwys en het hoofsaaklik Engels as skoolvak aangebied.

“Regte spelling help ’n kind om akademies beter te presteer, en om beter te verstaan. Dit speel ’n groot rol in die ontwikkeling van ’n leerling se potensiaal om naskoolse opleiding te ondergaan en ’n waardige, suksesvolle landsburger te word, en ’n selfversekerde taalgebruiker te wees.”
Jeremy Claassen

Hy is van mening dat die samelewing op die verstaan, praat en skryf van taal berus.

Volgens hom het sosialemediaplatforms en selfone tot swakker taalgebruik en spelling bygedra, en het hy besluit om betrokke te raak.

Die Covid-19-pandemie het die aanbied van die kompetisies onderbreek, maar van 2023 af gaan dit weer voluit in die Noord-Kaap vir leerlinge van gr. 1 tot gr. 10 aangebied word – in Afrikaans, Engels en Xhosa.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article