Die Upington-rugbyklub het Saterdag (07/07) vir Defence Force Collegians (DFC) en Calvinia se Young Tigers op sy tuisveld verwelkom.
Upington Dorp se tweede span het teen DFC se tweede span uitgedraf vir hulle tweede ontmoeting van die seisoen.
’n Vasberade Dorp 2, wat Woensdag (04/07) ’n wegholsege van 110 – 10 oor Groblershoop behaal het, was die eerste span om punte op die telbord aan te teken.
Dit was ook weer die tuisspan se Naas Terblanche wat met die tweede drie sy span met 10 – 0 laat voorloop het.
DFC het tevergeefs hul enigste punte aangeteken, ’n drie wat ook verdoel is, om die telbord op 10 – 7 te staan te laat kom.
Dorp 2 se Gideon Coetzee het in die laaste minuut ’n strafskop deur die pale gejaag, wat die eindtelling vir die wedstryd op 13 – 7 gelaat het.
Daarna het die Young Tigers teen die eerste span van Upington Dorp uitgedraf vir hul tweede ontmoeting van die Tafel Lager-superligastryd.
Teen rustyd kon die manne van Upington reeds ’n voorsprong van 33 – 3 geniet, met losskakel Theuns Kotze wat sy goue skopskoen aangehad het.
Dit is eers in die tweede helfte wat Calvinia vier draaie kort ná mekaar agter die pale gaan maak het wat die telbord tot 39 – 31 laat krimp het.
Die tuisspan kon die laaste punte vir dag aanteken om die wedstryd met 42 – 31 te wen.





