Ons, as mense, kan mekaar mos maklik iets toewens.
Soms sommer net ’n vinnige slegte woord wat uitglip; ander kere mooier, meer deurdagte wense: ’n geseënde dag, of op ons verjaardag – mag dit geseënd wees.
Jare gelede het ek ’n jong mamma leer ken: toegewyd in haar moederskap, gefokus op haar rol en besig in haar alledaagse lewe om die pot aan die kook te hou.
Sy het die mooi gebruik gehad om haar jongeling toe te wens: Mag jy vredevol slaap.
Dit is so mooi en so opreg.
Sy het dit presies bedoel soos sy dit gesê het: Mag jy vol van vrede slaap.
Wanneer ’n mens begin dink aan alles en almal wat ’n mens se vredevolle slaap kan wegvat, besef ’n mens die mooi van haar wens. Mag daar nie iemand of iets wees wat jou hinder om vol vrede te slaap nie.
Natuurlik is om vol vrede te slaap ook ’n geloofsaak.
Jy kan nie alles beheer nie, maar jy kan vredevol slaap en ’n nuwe dag met nuwe krag aanpak.
Vra maar vir enigeen wat swak slaap en baie rondrol in die nag hoe moeilik is dit as jou vrede in die nag van jou gesteel word.
Soms wil die gedagtes net nie rustig raak nie en soms word ’n mens oorweldig deur alles wat pla.
Daarom is dit so ’n mooi wens vir iemand: Mag jy vredevol slaap.
Vol van vrede.
’n Soete nagrus is ’n groot seën.

