Hoe laat jy die mense rondom jou voel?
Dit is nogal ’n belangrike vraag.
Natuurlik weet ons almal die denklyn van ’n mens is belangrik om op te lewe.
Dit is noodsaaklik.
Maar ’n mens moet ook onthou jy laat ander mense rondom jou op ’n bepaalde manier iets voel.
En daaroor moet ons nadink.
Wat mense van jou onthou, is dikwels nie dinge wat jy in die lewe bereik het of sukses wat jy behaal het of prestasies wat jy aangeteken het nie, maar hoe jy hulle laat voel het.
Dit is lekker om goed te voel en dit is lekker om mense om jou goed te laat voel.
Baie van ons onthou die warmte van ’n nes wat ’n ma ons laat voel het.
Baie van ons is verbitter oor hoe mense ons laat voel het.
Baie van ons het onreg al gevoel en die seer daarvan.
Ons weet ook hoe lekker dit is waar mense jou welkom laat voel, of warmte bied van vreugde.
Ons ken die vreugde wat ’n geliefde ’n mens kan laat voel.
Ons ken die seer van verraad en hoe dit ons laat voel.
Wanneer ’n mens ontnugter is, dan voel ’n mens vreeslik.
En so kan ons oordink en oordink.
Hoe laat jy mense voel?
Wat onthou hulle van hoe jy hulle laat voel het?
Ek wens soms ek kan jammer sê vir almal waar ek nie ’n goeie gevoel agtergelaat het nie.
En dankie vir hulle wat my goed laat voel het.

