Dit is eintlik ’n groot probleem in hierdie ou wêreld van ons.
Mense wat hulle te besig met die lewe van ander hou.
Die lewe kan soveel makliker wees en soveel mense kan soveel minder seer hê as mense hulle minder bemoei met die lewe van ’n ander.
Die vorige geslag het dit mooi gesê: “Hou jou neus uit ander se sake uit.”
Natuurlik moet ons na mekaar omsien en vir mekaar sorg en mekaar versorg.
Natuurlik moet ons help en dra waar ons kan, selfs vermaan en soms berispe.
Maar die ander kant is meer waar.
Mense wat ander mense nie kan uitlos nie, mekaar beskinder en benadeel, mekaar te na kom, behoort dit te staak.
Die rede is meestal onverstaanbaar. Dit is onverklaarbaar hoekom jy ’n ander sal seermaak sonder rede.
Tog gebeur dit elke liewe dag dat te veel mense hulle besig hou met te veel ander mense in plaas van om op hul eie roeping en doel te fokus.
Die vraag is seker eintlik eenvoudig: Hoekom bemoei ek my met die lewe van ’n ander?
Is my eie leefwêreld te klein en het ek dalk te min wat my besig hou?
Of is ek so onseker van myself dat ek vrug vind in die afbreek of beskinder of verkleinering van ’n ander?
Maak die lewe ’n beter plek en help waar jy moet, maar hou op om ander mense se lewe te beïnvloed en te besmet.
Jou lewe is vol genoeg, los die lewe van ’n ander uit.


