Toe hy my die dag vertel van sy dogter, het die trane oor sy wange geloop.
Sy het slag op slag beleef, kort ná mekaar, krisis op krisis.
Hy probeer vir my verduidelik en sluit af met: “Sy is voorwaar van voosheid aanmekaargeweef.”
’n Mens kry mos daardie tye in jou lewe dat die een aanslag op die ander volg.
Ons ken dit.
Dan kry ’n mens daardie mense wat ekstra tragedie op tragedie beleef.
’n Mens wonder hoe hou hul krag en energie, moed, geloof en hoop.
Inderdaad, soos die jong vroutjie is baie mense van voosheid aanmekaargeweef.
Sy was voos met die lewe, met besluite, met keuses, met seerkry.
Sy was moeg dat haar ouers haar moes dra en help en vashou deur alles heen.
Hy het nie omgegee nie.
Vir hom as vader was dit ’n groot voorreg, maar vir haar was die voosheid te veel.
Sy het net ingegee.
Tot sy eendag opgestaan het en, eintlik verbasend, baie krag getoon het.
Sy het besluit al het die lewe hoeveel klappe uitgedeel, sy hoef nie in voosheid te bly lê nie.
In een van die gesprekke, nadat sy herstel en opgestaan het, praat ek met haar oor haar pa se stelling dat sy aanmekaargeweef is van voosheid.
“Ja,” antwoord sy.
“Ek het die swaar na alle kante gehad, maar in my voosheid het ek ook krag leer ken, en genade en hoop.
“Ek het daarin leer leef.
“My voosheid het my krag geword.
“Ek wou opstaan.”
Sy het.


