Ek sien nie eintlik baie dat vroue dit vandag nog gebruik nie; dink my leefwêreld het net te veel verander.

Van my mooiste herinneringe aan albei my oumas is met ’n vingerhoed in die hand.

Naaldwerk moes gedoen word.

Die vingerhoed beskerm en verhoed dat jy jou raaksteek – só sou hulle vir my verduidelik, die ouma van Griekwastad en die ouma van Koffiefontein.

Ure en ure sou ek so by hulle sit terwyl hulle werk.

Sit en teken. Sit en kuier. Sit en gesels.

Vir my was die vingerhoed simbool van werk, van besig wees, van ’n mooi atmosfeer, van vriendelikheid, van ouma se sorg en toevou.

Waar ek vandag sit en werk, eintlik vir jare al, lê in my boonste lessenaarlaai ouma Sarie se vingerhoed.

Ek pas dit op.

Dit is vir my kosbaar en van my spesiale stukkies onthou.

Wanneer ek my laai ooptrek, dan lê dit daar. En ek onthou hul liefde en omgee, hul sorg en besorgdheid.

Ek lees nou die dag raak hoe ’n vrou in die Middeleeue vir ’n man op hul troudag ’n vingerhoed sou gee. As teken van getrouheid en lojaliteit.

Die opregtheid waarmee die twee oumas naaldwerk sit en doen het met die vingerhoed maak my hart warm.

In ’n onopregte, vinnig bewegende, oppervlakkige wêreld bring die sien van die vingerhoed in my lessenaarlaai vir my elke keer mooi onthou van karakter en integriteit.

Albei oumas is natuurlik jare gelede al oorlede, maar die werk van hul hande was welgedaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article