Ons het gister Nelia se 18de verjaardag gevier. Sy is nie 18 nie, sy is heelwat ouer.
Ons vier 18 jaar. Dit is hoe lank dit is sedert die dokter vir haar gesê het sy het minder as 18 maande oor.
Die gewas op haar brein was van so ’n aard dat die dokter, menslik en medies gesproke, nie langer as 18 maande kon voorsien nie.
Sy het die aand van 6 November 2006 gewoon gaan slaap – besonder sterk, besonder gesond, besonder bevoorreg.
Haar seuns was agt en nege jaar oud. Jonk en sterk.
Daardie nag, weens ’n epileptiese toeval, word die gewas ontdek.
’n Breinoperasie volg. Chemoterapie.
Die prognose is baie sleg. Ná die operasie gaan sy waarskynlik blind wees, of doof of verlam.
Soms werk die lewe anders, soos by Nelia.
Sy is nie verlam nie, sy is nie doof of blind nie.
Daarom kan sy vandag getuig van 18 jaar se genade.
Daarom vier ons haar verjaardag.
Ons almal weet elke dag is maar net genade, en ons weet elke dag is ’n lewensvoorreg.
Daarom moet ’n mens juis soms stilstaan, jou lewe oordink en die genade voel en ervaar.
Soos sy kan. Bewoë en dankbaar.
Die seuntjies het jong manne geword. Haar man en geliefdes kon versorg en help.
Maar sy vier genade.
Agtien jaar – want, sê sy, vir elke maand wat haar toe gegee is, het sy ’n jaar gekry.
Sy werk en sy leef.
En in ’n besige wêreld gaan staan sy ook stil, en vier genade.



