Dit gebeur met almal van ons.
Tye waarna ’n mens skielik net verlang.
Ver terug onthou.
Met my gebeur dit maklik wanneer ek op die stoep in die sonnetjie sit en kyk hoe die seisoene voor en om my verander, die herfsblare kleur en die winter voor die deur lê.
Dan gaan my gedagtes na winters op die plaas, lemoentyd, vroeg donker word en korter dae.
Op sulke dae dan dink ’n mens terug aan die koshuisdae van grootword, die onderwysers wat jou gevorm het.
Familiekuiers, en oor vriende met wie ’n mens lankal kontak verloor het.
Ek onthou die politieke gesprekke tussen skoolmaats, waar almal in die kerk gesit het.
Ek dink aan mense wat my lewenspad gekruis het, mense wat ek so graag nog een keer sal wil sien, mense wat ek asseblief net nooit weer wil sien nie.
Mense wat my gedra het, mense wat my te na gekom het.
Ek dink aan onreg en reg.
’n Mens verlang na mense en gebeure, plekke en tye.
Hoe lekker sou dit wees om nog een keer die hek van die plaas te kon oopmaak, laat in die nag, te weet pa en ma wag ’n mens in, warm gekookte kos op die tafel in ’n winternag.
Maar eers net al die maande se kuier inhaal.
Daardie tye toe die kinders klein was, ook dit gaan die gedagtes nie verby nie.
Wat ’n voorreg om te verlang, om te kan terugdink.
Dit beteken ’n mens het beleef, ervaar, geleef.
Daarom moet ons ons onthou koester.
Om te verlang is kosbaar.

