Ons kan so maklik verskonings uitdink hoekom ons iets nie kan doen nie.
In die eerste plek reken ons dikwels maklik ons kan nie. Soms het ons nie lus nie en dikwels probeer ons nie hard genoeg nie.
Ons gee net te maklik op en sê iets kan nie gedoen word nie.
Ek besef weer hoe ons te gou tou opgooi toe ek hierdie jong seun voor ons sien.
Ons is ’n saal vol mense. En hier voor ons staan ’n seun met soveel beperkings. Fisiek en psigies. Sy vermoëns, so was dit beskik, is so beperk. So dink ons.
Maar hy vat daar ’n tou en doen ’n stuk vlegwerk wat my verstom laat. Hy kan dit doen. Ongeag sy beperkinge het hy vaardighede.
Hy kan met dit wat hy kán doen ’n verskil maak.
Vandag leer hy ons ’n les in vleg. Hy weet hoe. Patroon is in sy kop. Hy verstaan dit.
Ons wil dikwels wanneer iemand beperk is, dink daar moet ook geen vaardighede wees nie.
Ons kan so maklik kla as ons nie al die vaardighede het nie.
’n Goeie begin sal wees dat ons met ons eie beperkinge, al dan nie, begin let op die vaardighede wat ons het. Wat ons kan doen.
Vandag leer ek ’n les by hierdie jong man met sy beperkinge.
Hy is beperk, maar hy is nie sonder vaardighede nie.
En ek moet twee keer dink voordat ek antwoord: “Ek kan nie.”
Dalk kan ek tog.

