In Afrikaans het ons die mooi metafoor om te praat van ’n olifant in die vertrek.
Dit is daardie een ding wat niemand kan miskyk nie, wat almal weet daar is, maar waaroor daar nie gepraat word nie en wat ooglopend geïgnoreer word.
Die redes hoekom ons so maklik ’n olifant in die vertrek verduur eerder as hanteer, is legio.
Soms weet ons nie hoe nie, soms is ons nie lus nie, soms ontken ons dit gewoon, soms wil ons nie die implikasies deurdink nie.
Die werklikheid is, en dit het die lewe nou al oor en oor gewys: Daardie olifant gaan nie sommer vanself weg nie.
So ’n mens se keuse is eintlik eenvoudig.
Jy ignoreer dit en bly maak of dit nie bestaan nie, of jy begin kies of jy dit gaan hanteer en hoe jy dit gaan hanteer.
Soos die een oom daar op die plaas gesê het: “Gee daardie olifant ’n naam, seun, en lei hom die huis uit.”
Ignoreer ’n mens so ’n olifant groei hy.
Ja, daar in die vertrek.
En word groter.
En gevaarliker.
Meer vernietigend.
Die gevolge van so ’n olifant in die vertrek begin verhoudings deursuur, asook ’n werksplek, ’n vriendekring en ’n familie.
By tye weet ’n mens van verskillende kante daar is ’n olifant in die vertrek, maar daar word verskil oor wat die olifant is.
Die werklikheid is: Erken die olifant, identifiseer die olifant, hanteer die olifant.
Hy gaan nie net vanself weggaan nie.
Verwyder hom so doeltreffend en gou as moontlik.

