Die afgelope week sit ons by die sterfbed van Ouma Potch.

Vir twee jaar het sy by ons aan huis gebly. Soms het sy verlang na haar huis in Potchefstroom en soms na die huis waarin sy haar vier kinders grootgemaak het.

Sy was een van 12 kinders.

Op 85 was sy deel van die geslag wat uit die Tweede Wêreldoorlog gekom het, die ingebruikneming van die Voortrekkermonument beleef het, asook republiekwording, die Bosoorlog en geweldige tegnologiese ontwikkeling.

Maar hier waar ons nou sit, maak al hierdie dinge nie saak nie.

Al wat saak maak, is dat haar oorstap uit hierdie wêreld gekom het.

Nou maak die verlange nie saak nie, die politiek is nie belangrik nie, besittings beteken niks, tyd het relatief geword.

Haar leefwêreld het klein geword, niks maak hier meer saak nie. Al wat vir haar nou belangrik is, is dat iemand haar hand vashou.

Terwyl ons een-een langs haar sit, beleef ons hartseer, stukkies onthou, moedeloosheid, soms humor; wonder waaroor sy glimlag, antwoord haar vrae.

Die versorgers langs haar bed is vir ons engele wanneer ons krag gewoon gedaan is en hulle so nodig is.

Maar dit is juis so langs die sterfbed dat ’n mens die voorreg van lewe besef en ervaar.

Ek hoor die voëltjies skerper, sien die son gouer, ruik die seisoen, waardeer dat ek die trappe kan klim, sê dankie vir kan kou en sluk en eet.

En ék besef net weer: Die lewe is en bly ’n genade-voorreg.

Terwyl ’n mens lewe, moet jy lewe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article