Die dominee het dié Sondag-oggend so mooi in die kerk gebid dat almal vrede sal hê met die “onvermydelike sterflikheid van die mens waaraan almal vroeër of later blootgestel word”.

Ek het besef sy gedagtes was by meer as net die mooi sinnetjie van waarheid waarvoor hy bid.

Hy moes daardie afgelope week ’n lidmaat begrawe vir wie hy besonder lief was.

Hy het ook by ’n jong moeder gesit wat meer vrae as antwoorde gehad het ná ’n miskraam in so ’n langverwagte swangerskap.

Hy moes troos daar waar iemand daardie week ’n groot operasie sou ondergaan en die narkose met angs en vrees binne is.

Hy het aanskou hoe iemand wat niks siek voel nie skielik kritiek is ná ’n hartaanval.

En daar was ’n kankerdiagnose, ’n beroerte, ’n jong mens in ’n motorongeluk, ’n bejaarde wat geval het.

Dit klink te erg om waar te wees. Tog was dit werklik sy week.

Dieselfde geld amper elke ander gemeente, en so gaan dit in ons werksplek en in ons vriendekring.

Daarom is sy gebed vir my so intens en mooi: Dat ons vrede sal hê met die onvermydelike sterflikheid waaraan elkeen van ons vroeër of later blootgestel word.

Die nietigheid van die mens raak ons.

Hoe meer ons dit beleef, hoe kleiner voel ons.

Die gebed van die dominee vra iets vreesliks, wel iets moois: Maak vrede met jou sterflikheid.

Dit is ’n vrede wat verstand te bowe gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article